Bulle kan een Bok inspan
2011-10-11 11:05
Johannesburg – Die Blou Bulle het vandeesweek straks te min tyd vir voorbereiding om hul terugkerende Springbokke deel van Vrydag se wedstryd teen die Luiperds op Loftus Versfeld te maak.
’n Volledige 10 Bulle het druipstert saam met die Bokke uit Nieu-Seeland teruggekeer en kan tegnies nou Curriebeker-rugby speel.
Dit lyk egter vir eers of net Zane Kirchner teen die Luiperds oorweeg sal word.
Die ander Bul-Bokke is Morné Steyn, Fourie du Preez, Francois Hougaard, Pierre Spies, Danie Rossouw, Victor Matfield, Bakkies Botha, Chiliboy Ralepelle, Gurthrö Steenkamp.
Die Bulle is ná hul nederlaag Saterdag teen Griekwas in Kimberley byna onder die Curriebeker-valbyl en sal in die stof byt indien die Westelike Provinsie Saterdag vyf ligapunte teen die Pumas kry.
Vyf punte van hul eie is nietemin noodsaaklik vir die Bulle indien hulle uit ’n moontlike WP-glips wil munt slaan.
Pine Pienaar, die Bulle se breier, het wel gesê dat die gebruik van die Springbok-spelers drasties kan verander indien die Ligbloues wel die reeks se halfeindronde haal.
“Ons speel nou al Vrydag, dus verloor ons ’n bykomende dag se oefening.
“Môre (vandag) is eintlik ons laaste dag se oefening, want Woensdag (môre) rus ons en Donderdag is dit al kapteinsoefening,” het Pienaar gesê.
“Ons kan Zane dalk nog oorweeg, want hy het twee weke terug nog vir ons gespeel.”
Kirchner het die beseerde Frans Steyn verlede week in die Springbok-groep vervang.
Hy het toe nooit speelkans in die Wêreldbeker-toernooi gekry nie.
Pienaar kondig sy span vandag reeds aan, terwyl die Bokke gister eers in Suid-Afrika aangekom het.
Die skouerbesering van die flank Warwick Tecklenburg gaan wel ’n verandering aan die span wat teen Griekwas gekwes is, noodsaak.
Volgens Pienaar besef die span hy het ’n groot geleentheid deur sy hande laat glip deur teen Griekwas te verloor – veral aangesien die WP daarna ook teen die Leeus verloor het.
“Ons moes vyf punte teen Griekwas gekry het, maar het dit nie gedoen nie. Ons gaan nou weer probeer teen die Luiperds.
“Wat Saterdag gebeur, is in die Pumas en die WP se hande en ons het geen beheer daaroor nie,” het hy gesê.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger