Bul-toets vir VS-wapen
2010-09-11 12:10
Bloemfontein - Hoewel die Vrystaat se verdedigingslinie weekliks ’n groter bondgenoot in die Curriebeker-reeks word, sal hy Saterdag hier teen ’n Bul-sneltrein sy beste duikslag-poging die seisoen moet lewer om ’n sege te behaal.
Die Blou Bulle draf ná hul sege oor die Haaie met oorgenoeg selfvertroue en ’n handvol Springbokke op die veld in ’n soeke na net hul tweede wegsege in dié rugbyreeks. Hulle kon nog net die Leeus buite Pretoria klop en het verlede naweek in hul laaste 40 minute weer die eerste keer soos kampioene gespeel.
Daarteenoor sal die Cheetahs hoop hul verdediging, wat ’n leemte was en nou ’n wapen geword het, is soos teen Griekwas ’n hoeksteen vir vier ligapunte.
Die tuisspan het die Poubloues in Kimberley voos geduik en ondanks min besit met 33-28 gewen.
Die Vrystaters het volgens www.ruggastats.com altesaam 252 duikslae teenoor Griekwas se 103 uitgevoer.
Voor in die Cheetahs se duik-koor was die rooikop-flank Philip van der Walt. Hy het 32 keer ’n Poubloue platgetrek en 6 keer sy spanmaats bygestaan.
Die Vrystaat-senter Robert Ebersohn meen die Cheetahs se verdediging het beslis verbeter.
“Ons het ná die Leeus-wedstryd ’n lang sessie gehad en almal het gesê ons gaan inkoop in ons verdedigingstelsel. As jy nie saamstem nie, pas jy nie by die stelsel in nie en sal ons ’n ander ou in jou plek moet kry. Dis lekker om almal nou op dieselfde golflengte te hê,” sê hy.
Ebersohn meen as sy span die (toe nog) onoorwonne Westelike Provinsie op Nuweland met duikwerk kon troef, hy enigiemand kan klop. “Elke keer dat ons goed verdedig, kry ons dit reg om opskuddings te veroorsaak.”
Die Ligbloues sal wil wys dat hul poging in die tweede helfte teen die Haaie nie ’n frats was nie. Hulle sukkel om agtereenvolgens goed te vertoon.
* Die spanne is:
Vrystaat: Hennie Daniller, Philip Snyman, Robert Ebersohn, Meyer Bosman, Jongi Nokwe, Louis Strydom, Tewis de Bruyn, Ashley Johnson, Philip van der Walt, Hendro Scholtz, Waltie Vermeulen, Francois Uys, Kobus Calldo, Adriaan Strauss (k), Coenie Oosthuizen.
PLAASVERVANGERS: Skipper Badenhorst, WP Nel, Izak van der Westhuizen, Kabamba Floors, Tertius Carse, Sias Ebersohn, Corné Uys.
Blou Bulle: Zane Kirchner, Gerhard van den Heever, Jaco Pretorius, Stefan Watermeyer, Jaco van der Westhuyzen, Jacques-Louis Potgieter, Francois Hougaard, Gerrit-Jan van Velze, CJ Stander, Derick Kuün (k), Juandré Kruger, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Chiliboy Ralepelle, Dean Greyling. PLAASVERVANGERS: Gary Botha, Rossouw de Klerk, Jaco Engels, Wilhelm Steenkamp, Okkie Kruger, Dustin Jinka, Stephan Dippenaar.
Skeidsregter: Jason Jaftha.
- Sport24