Bul-stut wil gou voor hof verskyn
2010-08-27 14:09
Pretoria - Regsverteenwoordigers van die Bloubul-stut wat in 'n voorval met 'n metro-polisiebeampte betrokke was, het gevra dat hy Vrydag nog in die hof verskyn.
"Ons probeer dat hy voor die naweek 'n hofverskyning maak. Hy is steeds in aanhouding," het die verdagte se regsverteenwoordiger, Ernst Serfontein, gesê.
Polisiewoordvoerder kapt. Katlego Mogale het gesê die rugbyspeler is in hegtenis geneem ná die polisie 'n klag van aanranding ontvang het.
Volgens die wet kan 'n verdagte vir 48 uur deur die polisie aangehou word nadat hy in hegtenis geneem is, het Mogale gesê.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare911, het gesê paramedici het 'n erg beseerde polisiebeampte vroeg Vrydagoggend in Schoemanstraat in Hatfield, Pretoria, gevind.
Dit het later aan die lig gekom dat die beampte doodgeslaan is.
- News24