Bul-stut betrek by polisieman se dood
2010-08-27 10:58
Pretoria - 'n Metro-polisiebeampte in Pretoria is dood na 'n voorval waarin 'n stut van die Blou Bulle na bewering betrokke was.
Luidens 'n persverklaring van die Blou Bulle Maatskappy was die stut glo Donderdagaand in 'n voorval met die metro-polisiebeampte betrokke.
Die Blou Bulle Maatskappy kon geen verdere inligting verskaf nie maar is ingelig dat die polisieman wel gesterf het.
Die rugbyspeler se regsverteenwoordiger, Ernst Serfontein, het aan Nuus24 bevestig die stut is in hegtenis geneem en dat hy by die Sunnyside-stasie in aanhouding is.
"Hy sal vandag (Vrydag) of Maandag in die hof verskyn", aldus Serfontein.
Sapa berig kol. Eugene Opperman het bevestig 'n saak van moord word ondersoek.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare911, het gesê paramedici het 'n erg beseerde polisiebeampte vroeg Vrydagoggend in Schoemanstraat in Hatfield gevind.
Dit het later aan die lig gekom die beampte is doodgeslaan.