Bryan Habana seer oor uitjouery
2010-11-05 09:54
Dublin - Bryan Habana kort ’n enkele drie om die alleenhouer van die rekord vir die meeste toetsdrieë in Springbok-rugby te word, maar sê sy fokus is eerder om aan ’n jong agterlyn leiding te gee in môre se rugbytoets teen Ierland hier in die Aviva-stadion.
Die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, het gister ’n span aangekondig wat wemel van onervare spelers – vernaamlik in die agterlyn.
“Die laaste ding waaraan ek nou dink, is die drieërekord. Ek is die tipe ou wat die span eerste wil stel,” het Habana gesê. Hy deel die Suid-Afrikaanse rekord van 38 toetsdrieë met Joost van der Westhuizen.
“Ek was teleurgesteld met my spelpeil in die Drienasies-reeks. Die kondisioneringsprogram het my baie goed gedoen en ek geniet weer my rugby.
“Ek wil maar net ’n positiewe bydrae lewer. Ons het ’n paar jong manne wat ervare spelers om hulle nodig het. Ek het nou al 66 toetse gespeel, Bjorn Basson (regtervleuel) net twee en Gio Aplon (heelagter) nege. Dit is dus belangrik dat ek druk op hulle verlig en sorg dat hulle na die beste van hul vermoë kan speel.”
Benewens Basson en Aplon gaan die heelagter Zane Kirchner die eerste keer in toetsrugby buitesenter speel, terwyl die bloedjong Patrick Lambie sy buiging op binnesenter sal maak indien Jean de Villiers nie vanoggend ’n fiksheidstoets slaag nie.
Habana het gister met die Bokke se aankoms in Ierland ook vir die eerste keer sy gevoelens openbaar oor hoe hy gevoel het om deur ’n Suid-Afrikaanse skare uitgejou te word in die Drienasies-reeks.
“Dis nooit aangenaam nie. Ek was teleurgesteld in die skare. As jy soveel vir jou land gedoen het, maak dit seer wanneer mense hul rug op jou keer,” het Habana gesê.
“Geen professionele sportmens beleef net hoogtepunte nie. Jy moet leer uit die slegte tye en altyd nederig wees wanneer jy wen.
“Dit was lekker om weer (in die Curriebeker) goed te speel. Die belangrike ding is om dit te geniet. Soms vergeet ’n mens dis eintlik waaroor dit gaan. Ek ag myself gelukkig om by die Westelike Provinsie en Springbokke mense te hê wat my as speler en mens waardeer. Dis tyd vir my om hulle terug te betaal vir alles wat hulle vir my gegee het.”
Die Bokke het ’n ietwat bisarre dag beleef, met een van die span se twee vlugte na Londen wat met ’n uur en ’n half vertraag is. Een van die vliegtuie se rookverklikkers in die bagasieruim het nie gewerk nie.
Daarna is ’n tweede rookverklikker vervang voordat vlug SA 234 van Johannesburg vertrek het. Dit was egter nie die einde van die drama nie, want ’n weerbarstige passasier moes later glo deur kajuitpersoneel in bedwang gebring word.
Hoewel die Bokke nie laasgenoemde drama sien afspeel het nie, het passasiers agter in die vliegtuig polisie-voertuie met die vliegtuig se stilhou opgemerk.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24