Brendan Venter dok op vir kritiek
2010-11-05 11:37
Dublin - Die afrigter van die Saracens, Brendan Venter, is swaar beboet nadat hy hewig teen skeidsregters in die Heinekenbeker-reeks uitgevaar het.
Dié voormalige Springbok is Donderdag in Dublin met €25 000 (byna R250 000), waarvan €15 000 (byna R150 000) opgeskort is, deur 'n tugkomitee van Europese rugby (ERC) beboet.
Venter het op 16 Oktober, na die Heinekenbeker-wedstryd tussen Saracens en Leinster by die Wembley-stadion, 'n waarskuwing gerig aan die Internasionale rugbyraad (IRR) en gesê dat rugby ernstige skade gaan ly indien probleme by die afbreekpunte nie aangespreek word nie.
Hy was woedend toe dié wedstryd se Franse skeidsregter, Christophe Berdos, versuim het om drie Leinster-spelers met geelkaarte te straf nadat talle strafskoppe sy span verhoed het om momentum te bou.
"Daar bestaan 'n gevaar dat, as ons nie nou iets doen nie, rugby gaan uitsterf. Mense sal net nie meer wedstryde bywoon nie, het 'n omgekrapte Venter na die wedstryd gesê.
"Ons sal eindelik provinsiale rugby op een manier speel en dan weer anders speel in Europa. Wanneer dit by die Wêreldbeker kom, moet mens maar wag en kyk watter skeidsregter die wedstryd gaan blaas," het hy bygevoeg.
Die ERC het in sy verklaring gesê, "Die onafhanklike tugkomitee het Mnr. Venter skuldig bevind aan wangedrag nadat hy op 'n onvanpaste manier die ERC, Heinekenbeker-reeks, skeidsregters én rugby gekritiseer het.
"Die tugkomitee het ook besluit om €15 000 (byna R150 000) tot 30 Junie 2012 op te skort. Op voorwaarde dat Mnr. Venter hom nie voor dié datum aan soortgelyke oortredings skuldig maak nie," het die verklaring gelui.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- AFP