Botes dalk toeskouer
2011-10-27 10:04
Johannesburg – Selfs al het hy die afgelope Saterdag maar slegs die tweede speler in die geskiedenis van Haaie-rugby geword wat in 100 Curriebeker-wedstryde gespeel het, sal Jacques Botes dalk droëbek na Saterdag se Curriebeker-eindstryd teen die Leeus moet kyk.
Botes het in die halfeindstryd teen die Cheetahs in die laaste paar minute vanaf die plaasvervangersbank speelkans gekry om die mylpaal van 100 wedstryde te bereik.
Die moontlike terugkeer van die Springbok-slot Alistair Hargreaves as plaasvervanger kan beteken dat Botes nie die groep vir die eindstryd haal nie – nadat hy by al 15 wedstryde tot dusver hierdie seisoen betrokke was.
John Plumtree, die afrigter, sal moet kies tussen Botes en die 20-jarige Marcell Coetzee as plaasvervanger-flank indien hy wel vir Hargreaves betrek, wat die afgelope maand se aksie misgeloop het weens ’n rugbesering.
Teen die Cheetahs was dit insiggewend dat Plumtree eers vir Coetzee gebruik het as plaasvervanger-flank en Botes slegs die laaste vier minute speelkans gegee het toe die slot Ross Skeate vervang is.
Met die kaptein, Keegan Daniel, wat na verwagting die hele wedstryd op die veld sal wees, kan dit nie goeie nuus vir Botes wees nie.
Plumtree sal waarskynlik voorkeur verleen aan die belowende Coetzee met sy kraglopies as plaasvervanger.
Botes het sy Curriebeker-debuut vir die Haaie in 2005 gemaak nadat hy van die Pumas af by die Durbaniete aangesluit het. Hy het hom sedertdien as ’n staatmaker gevestig.
Maar daar sal nie plek vir sentiment by Plumtree wees wanneer hy vandag sy 22-tal aanwys nie.
Intussen het Daniel sy spelers gewaarsku met dié woorde: “Jy kan nie op jou reputasie oorleef (in die eindstryd) nie. Dit gaan jou nêrens bring nie.”
Hy het verwys na die feit dat daar heelwat meer Springbokke in die Haaie se span is as in die Leeus-span en dat die Haaie die laaste aantal jare veel meer ervaring van Curriebeker-eindstryde as die Leeus opgedoen het.
“In ’n eindstryd soos hierdie tel reputasies niks. Dit gaan oor wie gemotiveer is vir die stryd en reg ingestel is om alles te gee.
“Jy kan ook argumenteer dat die Leeus nog die hele seisoen as ’n eenheid speel, terwyl ons span in die laaste paar wedstryde skielik ‘anders’ begin lyk het.”
Daniel waarsku sy spelers ook dat die Leeus uitgehonger gaan wees vir Curriebeker-sukses nadat hulle 12 jaar laas die Goue Beker kon vashou. “Ons weet hoe dit voel om ná só ’n lang ruk die droogte te breek. Dit het in 2008 (teen die Blou Bulle) met ons gebeur toe ons ook ná 12 jaar (ná 1996 se eindstryd op Ellispark teen Transvaal) eers weer gewen het.
“Ons sal ons dus moet staal vir hul fisieke aanslag en nie net dink dinge gaan vir ons gebeur omdat ons meer Bokke as hulle het nie.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger