Bokkies stuur SOS na Lions-heelagter
2011-06-14 17:59
Kaapstad - Die Lions se heelagter Jaco Taute gaan Woensdag by die Jong Bokkies in Italië vir die span se Junior Wêreldtoernooi-veldtog aansluit nadat die Suid-Afrikaanse o.20-agterlynspeler Craig Barry weens 'n besering moes onttrek.
Barry het 'n liesbesering tydens Maandag se spanoefening opgedoen. Die Suid-Afrikaners speel Dinsdagaand teen Ierland in hul tweede groepwedstryd.
Die o.20-span se breier, Dawie Theron, het gesê dit was 'n logiese besluit om Taute nader te trek aangesien hy verlede jaar vir die Bokkies in die Internasionale rugbyraad (IRR) se Wêreldtoernooi gespeel het.
"Jaco kon weens sy Super Rugby-verpligtinge nie oefenkampe bywoon nie, maar aangesien hy steeds vir die o.20-span kwalifiseer en beskikbaar is, kon ons hom vra om by die span aan te sluit," het Theron gesê.
Die Bokkies se kragmeting teen die Iere skop Dinsdagaand af om 20:10.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24