Bokkies druk op Howard se nommer
2012-01-18 11:00
Kaapstad – Dawie Theron, hoofafrigter van die Bokkies, het Patrick Howard vir die nasionale oefengroep in Stellenbosch opgeroep nadat twee spelers weens beserings aan die span onttrek is.
Kobus van Wyk, senter van die Westelike Provinsie, en Vian van der Walt, skrumskakel van die Goue Leeus, is onderskeidelik weens 'n rug- en enkelbesering aan die span onttrek.
Howard was deel van die proefspan wat in November verlede jaar in Kimberley byeengekom het.
Theron het gesê omdat daar nog drie skrumskakels in die span is, sal daar nie nou 'n plaasvervanger vir Van der Walt aangewys word nie.
"Ons is bietjie dun in die middelveld en dit is hoekom ons Patrick opgeroep het. Hy was al saam met ons en ken die planne en strukture."
Die Bokkies speel Saterdag 'n vriendskaplike wedstryd teen Ikeys in Kaapstad en volgende Vrydag nóg 'n wedstryd teen Maties.
– Lees meer hier
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg