Bokke weer op pad ná vlug-chaos
2011-07-16 19:55
Johannesburg – Die Springbokspan sal weer Saterdagaand na Sydney, Australië vertrek om aan die Drienasies-toernooi deel te neem, het Saru in 'n verklaring gesê.
Die Boeing 747 waarin die span Vrydagaand na Australië vertrek het, moes sowat twee ure ná dit opgestyg het na Johannesburg terugdraai omdat een van die enjins onklaar geraak het.
"Daar is uit die aard van die saak 'n bietjie ontwrigting maar ons is gereed en het die nodige aanpassings gemaak aan ons beplanning," het die Springbok-breier Peter de Villiers Saterdag gesê.
“Ons het ons vertrek beplan met die oog op die bestuur van die uitwerking van vlugvoosheid en moes weer na daardie planne kyk.
“Ons het na die program gekyk en dit het 'n uitwerking gehad, maar ons kan dit hanteer.
“Daar was duidelik 'n paar spanningsvolle oomblikke maar ons het die spelers 'n vry dag gegee om 'n bietjie te ontspan voor ons weer vanaand bymekaarkom.”
Die span het die aand in 'n hotel by die OR Tambo Internasionale Lughawe deurgebring, het Saru gesê.
“Qantas is baie goed,” het De Villiers gesê.
“Hulle het ons deur die nag op hoogte gehou en hulle bestuurder het (Saterdagoggend) na die spanvergadering gekom om die situasie te verduidelik en enige vrae van die spelers te beantwoord."
– Volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA