Bokke waarsku oor fop-profiele
2010-11-18 16:24
Kaapstad – Victor Matfield se Springbokke het dalk meer om te hanteer as net opposisie op die veld, nadat dit aan die lig gekom het dat valse profiele op sosiale netwerke in die name van sommige Springbok-spelers geregistreer is.
Die Bok-kamp het in 'n verklaring die publiek en media gewaarsku om nie bladsye op sosiale netwerke "op gesigwaarde te aanvaar nie".
"Daar is 'n hele aantal vals Twitter- en Facebook-bladsye wat aangebied word as die amptelike bladsye van die Springbok-bestuur en rugbypersoonlikhede," lui die verklaring.
"Media wat dié bladsye as 'n bron gebruik, word aangeraai om die oorsprong van die boodskappe na te gaan om te verhoed dat lesers of luisteraars mislei word."
Andy Colquhoun, kommunikasiehoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, het bevestig dat sommige nuusorganisasies "Bakkies Twitter" aangehaal het as stellings wat die Bok-slot Bakkies Botha gemaak het.
Ander mense in die Bok-kamp, waaronder Peter de Villiers, het ook aangedui dat daar bladsye is wat nie hulle s'n is nie, maar hul name gebruik.
Lees meer hier
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg