Bokke vat Italië vas
2010-06-19 16:49
Anja Carstens
Kaapstad - Die Springbokke het Italië Saterdag met 29-13 in die eerste van twee toetse op die Puma-stadion in Witbank geklop.
Die Suid-Afrikaners het hul stempel vroeg in die wedstryd afgedruk met drie drieë in die eerste helfte nadat Italië eerste punte op die telbord gesit het met 'n strafskop.
Die rustydtelling was 22-3, maar die besoekers was vinnig by die afbreekpunte en het 'n paar keer goeie omgekeerde besit bewerkstellig.
Butch James se geelkaart in die 51ste minuut het die Azzurri moed laat skep en na 'n goeie wegbreek deur skrumskakel Tito Tibaldi het hul kaptein Sergio Parisse onder die pale gaan druk.
Die Bokke het miskien 'n bietjie stoom verloor in die tweede helfte en was dit nie vir klipharde verdediging nie, kon Italië dalk meer punte op die telbord gehad het.
Hoewel hulle verloor het is dit die Italianers se beste uitslag nog in 'n toets teen die Springbokke.
Die tweede toets word volgende Saterdag in Oos-Londen gespeel.
Puntemakers:
Springbokke: Drieë: Bryan Habana, Morné Steyn, Francois Louw, Zane Kirchner Doelskoppe: Morné Steyn (3) Strafskoppe: Morné Steyn
Italië: Drieë: Sergio Parisse Doelskoppe: Mirco Bergamasco Strafskoppe: Mirco Bergamasco (2)
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter
te volg.