Bokke slaan kamp op in Wellington
2009-12-18 14:08
Johannesburg - Die Springbokke sal hulself vir `n groot deel van die verdediging van hul Wêreldbeker-titel in Nieu-Seeland se hoofstad, Wellington, baseer.
John Smit se span sal 17 nagte in Wellington spandeer om die verdediging van die titel wat hulle in 2007 in Frankryk gewen het af te skop. Hulle sal die grootste deel van die eerste helfte van die toernooi in Nieu-Seeland se Noordelike Eiland spandeer met besoeke aan Auckland en nege nagte in Taupo daarna.
Die Bokke, wat `n moeilike groep vir die toernooi het met wedstryde teen Wallis, Samoa, Fidji en Namibië, begin hul veldtog op 1 September 2011 in Wellington waar hulle 11 dae voor die aanvang van die Wêreldbeker sal bly voor hul eerste wedstryd teen Wallis op 11 September in Wellington. `n Dag later sal Fidji en Namibië mekaar pak in Rotorua.
Suid-Afrika sal op 17 September teen Fidji speel in Wellington voor hulle die volgende dag na Taupo sal vertrek waar hulle twee weke lank sal bly. Die span sal die dorpie vlugtig verlaat vir hulle wedstryd teen Namibië in North Shore voor hulle vir ses dae sal terugkeer na Taupo.
Op 30 September sal hulle in North Shore teen Samoa speel.
Die Bokke sal daarna na Wellington vertrek vir die kwarteindronde en as hulle verder vorder, die halfeindronde en eindronde in Auckland se Eden Park.
Die Nieu-Seelandse reëlingskomitee het Vrydag aangekondig dat hulle 23 sentrums sal gebruik vir die Wêreldbeker om te verseker dat kleiner gemeenskappe ook kan deel in die aksie.
"Ons as `n land is passievol oor rugby so dit is fantasties vir ons dat ons die Wêreldbeker na die klein dorpies van Nieu-Seeland kan bring," sê die plaaslike uitvoerende hoof van die WB-toernooi, mnr. Martin Snedden.
"Vandag se aankondiging is veral opwindend vir die kleiner sentrums wat aansoek gedoen het gasheer te speel vir van die spanne." `n Totaal van 23 sentrums - 16 in die Noordelike Eiland en sewe in die Suidelike Eiland - sal die gasheer wees van ten minste 20 deelnemende spanne.
"Ons het al die pad gesê dat ons soveel as moontlik gemeenskappe so redelik as moontlik `n eerstehandse ervaring van die Wêreldbeker wil gee. Vandag se aankondiging is `n baie belangrike deel daarvan om Nieu-Seeland aan te vuur vir die toernooi," sê Snedden.
"Dis `n wonderlike geleentheid vir ons almal. Die spanne sal meer van Nieu-Seeland se kultuur kan ervaar en die gemeenskappe wat gasheer speel kan hulself aan die wêreld vertoon en bemark."
"Vandag kondig ons ook aan dat die spanne `n totaal van 47 oefenvelde oor die land heen sal gebruik. Die kombinasie van klub- en skolerugby sowel as publieke oefenvelde sal nog meer gemeenskappe nader aan die toernooi kry."
"Wat regtig fantasties is, is dat die spanne en aanhangers die passie vir die spel kan ervaar vanuit die vlak waar rugby op sy sterkste is in Nieu-Seeland. Tonga en Samoa sal byvoorbeeld hul spel slyp by een van die oudste klubs in Nieu-Seeland, die Ponsoby-rugbyklub. Ponsoby spog met spelers soos Bryan Williams, Andy Haden, Joe Stanley en Carlos Spencer uit hul geledere sowel as van die beste fasiliteite in die land."
"Spanne sal ook oefen by verskeie skole wat `n trotse rugbytradiesie het soos Southland Boy’s High, Christ’s College, New Plymouth Boy’s High en Rotorua Boy’s High."
"Ek is seker dat al die gemeenskappe wat as gashere sal optree die voordele van hierdie sonderlinge geleentheid sal aangryp en spanne en aanhangers met `n vriendelike verwelkoming, goeie diens en `n sonderlinge Kiwi-ervaring sal verwelkom."
- Supersport.com