Bokke se Mujati-skok
2011-04-20 07:02
Kaapstad – Springbok-ondersteuners kan binnekort “Mooeeej” saam met “Beeeast” skree wanneer Brian Mujati ’n terugkeer na Suid-Afrika se voorry maak.
Sport24 verneem dié vergete Bok-stut, wat deesdae vir die Northampton Saints in Engeland speel, kan moontlik ’n Suid-Afrikaanse troef in vanjaar se Drienasies-reeks én die Wêreldbeker-toernooi wees.
Mujati (26) het sy toetsbuiging in 2008 onder Peter de Villiers se afrigting gemaak, maar is in 2009 Engeland toe ná twee seisoene by die Stormers.
De Villiers kondig vandag ’n groep van tussen 45 en 50 plaaslike spelers aan vir Suid-Afrika se eerste beplanningsessie op 1 en 2 Mei in Kaapstad in die aanloop na die Wêreldbeker-toernooi.
Mujati sal weens oorsese verpligtinge nie in daardie groep wees nie, maar is een van ’n handjievol oorsese Bokke wat later in die prentjie kan kom. Hy skitter vir die Saints in Europa en Sport24 verneem sy puik spelpeil het onder die Bok-keurders se aandag gekom.
“Ek beskou hom tans as een van die beste vaskopstutte ter wêreld,” het die voormalige Bok-vaskopstut Cobus Visagie gister gesê toe hy oor Mujati uitgevra is.
“Daar is omtrent niemand hier wat hom onder druk kan plaas nie. Sy bindwerk is 100% en hy staan byna nooit strafskoppe af nie. Brian het ook ’n baie goeie werkverrigting en het onlangs ’n paar drieë gedruk.”
Visagie het eerstehandse kennis van Mujati se spelpeil – dié oud-Bok is Saracens se skrumkonsultant en dus vertroud met die voorry-talent in Europa.
Suid-Afrika het reeds ’n vaskopstut van wêreldgehalte in Jannie du Plessis, maar Visagie glo dit sal die Bokke beslis baat om vir Mujati nader te trek.
Visagie meen verder daar moet ag geslaan word op Schalk Brits se spelpeil op haker – en dat dié vlugvoetige Saracens-nr.2 puik van die Bokke se plaasvervangersbank af kan wees.
“Ek dink Suid-Afrika kort ’n bietjie beweeglikheid onder sy vaste voorspelers. Bismarck du Plessis is natuurlik ’n uitstaande speler,” het Visagie gesê.
“Deon Fourie (Stormers-haker) is ’n speler waarvan ek baie hou en ek verstaan die plan met John Smit. Enigiemand wat egter sien hoe goed Schalk Brits sy man hier teen ander internasionale spelers staan, sal begrip kry vir sy waarde.
“Schalk se spel in die vaste afdelings het hier ontwikkel. Indien Suid-Afrika hom as impakspeler wil oorweeg, kan hulle werklik nie beter doen nie.”
Visagie meen wel daar ís meriete in die veelbesproke plan om vir Smit soms van die plaasvervangersbank af in te span en sy koelkop op kritieke tye aan te wend.
“Daar is plek daarvoor in die groter plan, maar volgens daardie logika kan niemand anders dan daardie rol vertolk nie. Suid-Afrika het ’n baie ervare span.
“Ek voel John moet deel van die groter plan wees – indien hy goed genoeg speel.”
Wat die loskopstut-posisie betref, glo Visagie dat Tendai Mtawarira en Gurthrö Steenkamp logiese keuses vir die Wêreldbeker-toernooi gaan wees.
Hy deel nie die mening van die voormalige Bok-stut Willie Meyer dat Coenie Oosthuizen in die Bokke se Wêreldbeker-groep moet wees nie.
“As jong voorrye slaan ek ouens soos Dean Greyling (Bulls) en Wicus Blaauw (Stormers) hoër aan as Coenie,” het Visagie gesê.
Visagie is veral bekommerd oor die hoeveelheid strafskoppe wat Oosthuizen afstaan.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg