Bokke ontwrig in Wallis
2010-06-03 10:04
Louis de Villiers
Cardiff - Daar skort nie veel met die Cardiff Hilton, waar die Springbok-rugbyspan tuisgaan voor sy rugbytoets Saterdag teen Wallis nie, maar soos sy voorbereiding vandeesweek ontwrig is deur knoeiery op amptelike vlak, kon hy netsowel in Fawlty Towers gebly het.
Andries Bekker het gistermiddag hiervandaan huis toe vertrek weens ’n rugbesering, maar die jongste verwikkeling in die immer klimtollende sage van Butch James se beskikbaarheid al dan nie het gister nogmaals ’n nuwe wending of twee geneem.
Gisteraand is gehoop dat James wel sal speel nadat iemand besef het sy spelerskontrak met Bath maak daarvoor voorsiening dat hy te alle tye vir sy nasionale span beskikbaar sal wees.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het gisteraand egter nog geveg om James in sy toetsspan te behou met die Engelse klubrugbybase wat die aandrang teengestaan het.
Betroubaar is verneem dat Bath en die Internasionale Rugbyraad James die jawoord gegee het, maar dat die beheerliggaam van die Engelse Premierliga onwrikbaar by sy nee gehou het.
Intussen kom Victor Matfield en Zane Kirchner vandag hier aan as plaasvervangers vir Bekker en James.
Matfield is Sondag ná die Super14-eindstryd die jawoord gegee om ’n welverdiende blaaskans te geniet, maar nadat Bekker se besering teen eergisteraand nog nie beter was nie, is die Bulls-kaptein inderhaas gevra om te pak en hom hierheen te haas.
Kirchner is opgeroep nadat eers verneem is na Morné Steyn, die Bulls- en gereelde Bok-losskakel, se beskikbaarheid, maar Steyn het intussen sy verstandtande laat uithaal en die steke kom eers ná die naweek uit.
Daarna is op Peter Grant van die Stormers se nommer gedruk, maar dié had weer nie ’n Britse visum nie.
Kirchner, wat einde verlede jaar met die Springbokke hier getoer het, se visum van destyds is nog geldig en hy is opgeroep, met die idee waarskynlik dat Frans Steyn na binnesenter sou verskuif en die Bulls-speler as heelagter sal diens doen.
James se beskikbaarheid is in die gedrang nadat die Engelse beheerliggaam van klubrugby, Premier Rugby, Bath gedwing het om James te laat onttrek.
Nadat James dus eergisteroggend gehoor het sy plek is in die gedrang, eergistermiddag gehoor het alles is honkiedorie en toe weer eergisteraand moes hoor dat Bath nou sy deelname weier, is daar gister aangedui dat hy wel sal kan speel vanweë die betrokke klousule in sy kontrak.
Maar die beheerliggaam van die Engelse Premierklubs het gisteraand nog nie sy seën gegee nie en James se beskikbaarheid is daarom steeds onseker.
Vir die betrokke spelers kan ’n mens net jammer kry.
Hul breier, Peter de Villiers, was gister die hoenders in oor die wipplank-ryery en het selfs in ’n stadium hardop gewonder of die Bokke nie eerder huis toe moet gaan nie.
“Ek wil net hê die manne moet op die wedstryd konsentreer, maar die hele storie maak dit erg moeilik.
“As dit moet, moet ons seker daaroor dink om huis toe te gaan,” het De Villiers gesê.
Hoeveel simpatie ’n mens ook met sy situasie mag hê, maak die ooreenkoms met die Walliese Rugbyunie en die 50 000 kaartjies wat reeds vir die toets verkoop is, dit egter wensdenkery.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24