Bokke moet pasop vir die Skotte
2010-11-20 08:00
Edinburg - Daar is min groter clichés in rugby as om te sê ’n span durf nie oorgerus wees nie, maar die Springbok-rugbyspan durf Saterdag inderdaad nie oorgerus wees nie.
Daar kan om twee voor die hand liggende redes in die strik getrap word: Skotland het verlede week met 3-49 teen Nieu-Seeland verloor en vandag se stryd is op Murrayfield.
Die blote verwysing na dié veld bring ’n glinster na ’n Suid-Afrikaanse ondersteuner se oog, met die sege van 44-0 in 1951 wat steeds as ’n hoogtepunt in die Springbok-sage pronk.
Nick Mallett se Springbokke het die rekordboeke in 1997 herskryf met ’n weghol-oorwinning van 68-10, maar dis eerder die onlangse verlede wat vandag in berekening gebring moet word.
Verlede naweek se nederlaag was eintlik Skotland se enigste in sy laaste vyf wedstryde. Voor dit was daar ’n reekssege in Argentinië, ’n oorwinning oor Ierland in Dublin en ’n gelykopstryd teen Engeland in Edinburg.
Diegene wat dus dink die Skotte beskik nie oor die vermoë om op ’n gegewe dag mededingend te wees nie, is op ’n dwaalspoor.
Moet geen fout maak nie: die Skotte is ook hoogs gemotiveerd en wil sake regstel teen die Bokke. Hiervoor het die Skotte se breier, Andy Robinson, vir hom ’n groot pak voorspelers gekies.
Wat die Bokke betref, is hulle weer besig om hul voete te vind. Die oorwinnings oor Ierland en Wallis was bemoedigend bloot omdat Suid-Afrika aan die wenkant was, maar die ontbrekende bestanddeel bly beheer.
’n Mens wil nie eintlik oorwinnings op hierdie vlak aan geluk toeskryf nie, maar as Ronan O’Gara se doelskop ’n sentimeter na links was, sou Suid-Afrika moes verduidelik hoe hy ’n voorsprong van 23-9 binne 10 angswekkende minute weggesmyt het. En dan was daar Cardiff, waar Suid-Afrika ’n nagmerrie van ’n eerste helfte beleef het, maar uiteindelik ’n agterstand van 11 punte uitgewis het om met 29-25 te wen.
Tog was daar weer eens nie beheer nie – nie in die eerste helfte toe Suid-Afrika se verdedigingslyn herhaadelik oopgekloof is nie, en ook nie in die doodsnikke toe die Springbokke desperaat moes keer nie.
Wat die Bokke hulself en die ondersteuners skuld, is ’n kliniese vertoning waar die intensiteit vir die volle 80 minute volgehou word en die uitvoering akkuraat is. Die laaste keer dat dit vanjaar gesien is, was teen Frankryk op Nuweland.
Die Bokke het vandeesweek gepraat oor hul ambisie om besit meer te koester, maar Skotland se vuur sal eerstens voor geblus moet word.
Met Nathan Hines op die flank en twee Britse Leeus in die voorry, is dit duidelik dat die tuisspan Suid-Afrika in die vaste fasette die stryd wil aansê.
Die tuisspan se skakelpaar van Rory Lawson en Dan Parks sal waarskynlik ook die Springbokke se betreklik onervare agterste driehoek met taktiese skopwerk op die proef stel.
Vir Suid-Afrika is die uitdaging om vroeg al sy stempel af te druk eerder as om soos in Cardiff vir die tweede helfte te wag.
Skotland se eer is verlede naweek gekrenk en daarom sal die Skotte van meet af aan begeesterd wees. Tog bly dit maar net ’n situasie waar Suid-Afrika sy kaarte reg moet speel.
As ’n mens die spanne opweeg, is dit moeilik om te sien hoe die Bokke nie kan wen nie.
Maar die geheim vir hulle is juis om nie met daardie ingesteldheid uit te draf nie, anders is daar vanmiddag dalk net perde op Murrayfield.
- Die Burger