Bokke moet Cheetahs byt gee teen WP
2011-08-02 07:41
Bloemfontein – Vier Springbokke en ’n Blitsbok moet die Vrystaat Saterdag hier teen ’n gedugte Westelike Provinsie-span genoeg skop gee om sy Curriebeker-veldtog weer op dreef te kry.
Die Bokke Ashley Johnson, Adriaan Strauss, Coenie Oosthuizen en Heinrich Brüssow sal die Cheetahs se voorspelers aansienlik meer byt gee. Hulle is almal in die Bok-groep vir die Drienasies-reeks en vrygestel om die naweek Curriebeker-rugby te speel.
Boonop behoort die opwindende senter Robert Ebersohn ook sy terugkeer ná ’n enkelbesering te maak.
Die Cheetahs se jong Curriebeker-span het Saterdag ’n tweede agtereenvolgende week met rukke en stote gespeel.
Die Vrystaters het die Haaie toegelaat om reeds in die 21ste minuut ’n bonuspunt-drie te druk en was met rustyd met 17-31 agter. Hoewel hulle daarna goed teruggeveg het, het hulle ’n nederlaag van 34-43 gely weens dié agterstand. Daarom sal Naka Drotské, die Vrystaat-breier, sy hoop op die terugkerende ervare spelers vestig om sy span beter te laat vertoon.
’n Jong WP-span het die Blou Bulle, teen wie die Cheetahs met 30-33 in Pretoria verloor het, Saterdag op indrukwekkende wyse met 35-7 op Nuweland kafgedraf.
Johnson, Strauss en Oosthuizen sal in die Vrystaat-beginspan uitdraf, met Brüssow, wat sy terugkeer ná ’n dyspierbesering maak, ’n plaasvervanger. “Dis almal ouens met Super Rugby-ervaring en dit gaan vir ons baie beteken. Veral ons pak is baie onervare en die Bokke se terugkeer behoort ’n groot verskil te maak,” sê Drotské.
Ebersohn lyk al sedert verlede week reg vir aksie, maar moet volgens Drotské môre ’n finale fiksheidstoets slaag.
Dié Blitsbok het sy enkelligamente in die Cheetahs se laaste Super Rugbywedstryd, teen die Stormers, beseer.
Rayno Benjamin (vleuel), wat met sy terugkeer ná ’n dyspierbesering 50 minute teen die Haaie kon speel, behoort langer kans teen die WP te kry.
Strauss se beskikbaarheid beteken die Vrystaters se hakerprobleme is vir ’n wyle iets van die verlede.
Met hom by die Bokke, Skipper Badenhorst wat uitgetree het en PW van Vuuren (dyspier) wat beseer is, moes die Vrystaters met Michael van Vuuren en Hercu Liebenberg teen die Haaie speel.
Die agtsteman Boom Prinsloo het volgens die Cheetah-bulletin harsingskudding teen die Haaie opgedoen. Hy sal straks vanweë die Bokke se terugkeer in elk geval nie in die 22-tal wees nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24