Bokke maak indruk met hul skrumwerk
2010-06-21 12:40
Louis de Villiers, Witbank
Koerantopskrifte was Sondag onvleiend oor die Springbokke se gesukkel Saterdag toe die Wêreldkampioen so hortende, stortende, hikkende ’n moedige span van Italië met 29-13 ondergesit het.
Maar die waarheid is dat hierdie wedstryd reeds vanoggend bloot statistiese betekenis het. Die Azzurri sal waarskynlik iets hieruit kon put – hulle het veggees getoon en ’n verwagte slagting afgeweer, wat beteken hulle kan aanstaande seisoen hoër begin mik teen Sesnasies-teenstanders.
Met Suid-Afrikaanse rugby op die kruin van ’n golf, dien hierdie Junie-toetse deesdae amper as Wêreldbeker-proefwedstryde en vir spelers wat amper almal hul slag oor die vorige drie weke getoon het teen Frankryk op Nuweland, teen Wallis in Cardiff en teen mekaar in Soweto, moes motivering ’n onbegonne taak gewees het.
Ironies genoeg beteken dit natuurlik dat motivering minder vir die tweede toets in Oos-Londen sal makeer, maar ’n mens kan van niemand verwag om weekliks gemoedere gaande te maak nie. Dat die besoekers in hul noppies was met ’n vertoning waartydens hulle net vier drieë afgestaan het, verduidelik die hele okkasie perfek.
Die Springbokke se eerstefase-spel was uitstekend, met die skrumwerk weer indrukwekkend en in hierdie geval ook die enigste aspek van die wedstryd waarin die Azzurri as ’n werklike toets bestempel kan word.
Martin Castrogiovanni is weliswaar ná sowat 25 minute met ’n besering van die veld, maar kon nie in sy tyd op die veld hond haaraf maak teen Gurthrö Steenkamp nie en dié loskop groei weekliks in statuur. So ook Jannie du Plessis, wat ná die 2009-seisoen, wat hy hoofsaaklik op die reserwebank deurgebring het, weer soos ’n meneer speel; en Chiliboy Ralepelle wat die afgelope twee Saterdae sweerlik die meeste skeptici oortuig het die afrigters het niks uit hul duime gesuig oor hom nie.
Gesien dat ’n mens ’n amper ewe goeie agttal uit hul Bok-kollegas kan saamstel, was dié een se vertoning dwarsdeur die geledere puik. Bakkies Botha het met mening na die toetsveld teruggekeer, terwyl Francois Louw en Dewald Potgieter nogmaals klipharde, doeltreffende inklim-vertonings gelewer het.
Agterlangs het daar maar min aangegaan, maar Morné Steyn het kalm en oordeelkundig vertoon. G’n span sal nie die verlies van Fourie du Preez voel nie, maar Steyn raak stadig maar seker ’n generaal soos sy Bulls-skakelmaat.