Bokke kry nuwe borg vir Groen-en-Goud
2010-08-15 11:40
Rudolph Lake en Stephen Nell
Johannesburg - Ongeag die Springbok-rugbyspan se powere vertonings die laaste tyd in die Drienasies-reeks, staan Suid-Afrikaanse rugby op die rand van ’n blink en opwindende nuwe era.
Daar is skielik vrede in plaaslike rugbygeledere ná die bekendmaking die afgelope week dat die Suid-Kaap uiteindelik sy regmatige plek in die son sal kry deurdat dié streek vanaf 2013 ook deel sal wees van Super-rugby.
En verdere goeie rugbynuus word vandeesweek verwag met die waarskynlike aankondiging van die Bokke se nuwe truiborg, wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) al die pad bank toe breed sal laat glimlag.
Volgens Sport24 se bronne sal Absa glo vanaf begin 2011 die Springbokke en al die ander nasionale rugbyspanne se nuwe truiborg wees.
Die huidige truiborg, Sasol, se borgskap loop einde vanjaar ten einde.
Die borgskap-ooreenkoms tussen Saru en die bankgroep beloop glo meer as R65 miljoen en sal oor vier jaar strek. Absa is reeds die borg van die gesogte Curriebeker-kompetisie en provinsiale o.19- en o.21-reekse.
Dié jongste verwikkelinge in plaaslike rugbykringe volg op die onlangse aanstelling van Jurie Roux as die nuwe uitvoerende hoof van Saru nadat die samesmeltingsproses van Saru en sy beroepsarm, SA Rugby, beklink is.
Absa se waarskynlike borgskap kon nie gister amptelik bevestig word nie, maar Sport24 het die afgelope week betroubaar verneem dat onderhandelinge met die bankgroep ver gevorderd is en dat daar ’n goeie kans is dat dit vroeg vandeesweek gefinaliseer sal word.
Ander groot maatskappye wie se name ook die afgelope week genoem is as moontlike nuwe truiborg, is Vodacom, Visa, MTN, Emirates en Samsung.
Intussen het die president van die Oostelike Provinsie se rugby-unie, Cheeky Watson, gesê die Kings is tevrede dat hulle eers vanaf 2013 deel sal wees van Super-rugby.
Dié streekspan en Saru het vroeër vanjaar koppe gestamp toe daar gesê is dat hulle tot 2013 moet wag alvorens hulle Super-rugbystatus kon kry.
Die Kings wou aanstaande jaar reeds in dié Suidelike Halfrond-kompetisie begin speel het. Dít sou beteken het dat óf die Lions of die Cheetahs vir hulle plek sou moes maak.
“Ek dink die besluit om eers vanaf 2013 Super-rugby te speel, was ’n baie pro-aktiewe een deur die OP se leierskap,” sê Watson.
“Die Lions is in Johannesburg gesetel en dis die ekonomiese hartklop van Suid-Afrika. Dit sou onverantwoordelik gewees het om dadelik op insluiting aan te dring. Ons het nou tyd om ons goed voor te berei. Die besluit is in die groter belang van rugby in Suid-Afrika geneem,” sê Watson oor die Kings se toekomstige deelname.
Die Super-rugbyreeks sal in 2013 waarskynlik uit 16 spanne bestaan, met 6 Suid-Afrikaanse spanne wat deel sal wees van die kompetisie.
“Dit sal beteken dat die plaaslike rugbyseisoen twee weke vroeër sal moet begin, maar dis nie ’n groot probleem nie,” sê Watson.
Watson is ook verheug oor die afgelope week se aankondiging dat volgende jaar se Drienasies-toets tussen die Springbokke en All Blacks in Port Elizabeth gespeel sal word.
Die Grens en Suidwestelike Distrikte sal dié toets se wins deel.
“Ons het lank hiervoor baklei en dis belangrik vir die ontwikkeling van rugby in die streek.”