Bokke kon nie vir beter vra
2011-11-09 08:57
Kaapstad. – Die Springbokke kon beswaarlik vir ’n beter loting vra as die een wat Suid-Afrika vir aanstaande jaar se Rugby Kampioenereeks teen die res van die Suidelike Halfrond se reuse gekry het.
Ofskoon Argentinië se toevoeging tot die eertydse Drienasies-lande nie vir enigiemand as ’n verrassing kom nie, is ’n amptelike ooreenkoms daaroor eers onlangs in Auckland bereik.
Argentinië se insluiting sal Suid-Afrika ook tot voordeel strek, want die All Blacks en Wallabies sluit albei die reeks met toere af.
Daar is dus vir die Aussies en Kiwi’s meer reistyd as in die verlede.
Suid-Afrika begin sy veldtog op 18 Augustus tuis teen die Poemas. Die Bokke speel die daaropvolgende Saterdag weg teen Argentinië voor die eerste loslootjie vir almal aanbreek.
Nieu-Seeland en Australië sal mekaar intussen voos speel terwyl Suid-Afrika die oorweldigende gunsteling sal wees om op agtereenvolgende naweke met Argentinië af te reken. Suid-Afrika toer daarna na Australië en Nieu-Seeland voor die Bokke die reeks met toetse op eie bodem teen die Wallabies en All Blacks afsluit.
Die Bokke speel hul toetse Doer Onder in Perth en Dunedin, maar plaaslike en Argentynse rugbybase het nog nie besluit waar hul tuiswedstryde gespeel gaan word nie. Die uitgebreide reeks het ook ’n nuwe naam tot gevolg gehad en vandaar die “Rugby Championship” (Rugby Kampioenereeks).
Argentinië sal egter nie amptelik deel van die Sanzar-alliansie (Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië) word of in die inkomste uit uitsaairegte deel nie.
“Hulle word nie ’n Sanzar-vennoot nie. Hulle speel in ’n Sanzar-toernooi en sal slegs inkomste verdien uit die uitsaai van wedstryde in Argentinië deur ESPN,” het Sanzar se kommunikasie- en bemarkingsbestuurder, Anthony Mackaiser, aan Sport24 gesê.
Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Jurie Roux, meen Argentinië se insluiting verleen ’n “nuwe dimensie” aan Sanzar.
“Dis die platform vir ’n rugbylandskap wat ingrypend gaan verander. Die insluiting van Suid-Afrika se ou vriend erken die ryk geskiedenis en passie vir die spel in Argentinië. Dir reeks is nou meer logies en gebalanseerd in terme van wedstrydbepalings en Suid-Afrika word nie meer as die ander lande in terme van lang reisure benadeel nie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24