‘Bokke het Os nodig’
2011-08-18 08:00
Johannesburg – Die voormalige Springbok-stut en skrumkenner Balie Swart glo die nasionale span se bestuur begaan ’n groot fout deur nie meer van Os du Randt se dienste as skrumspesialis gebruik te maak nie.
Swart glo die Bokke het die dienste van ’n skrum-ghoeroe nou meer as ooit nodig. Boonop het die Bokke in Saterdag se Drienasies-nederlaag in Durban veral teen die einde harde bene teen die Australiërs in die skrum gekou.
“Hulle het iemand soos Os nodig. Veral nou, met al die tegniese reëls en dinge wat in die skrums gebeur. Jy benodig iemand wat absoluut net op daardie afdeling van die spel fokus.”
Du Randt is vroeër vanjaar van sy verpligtinge as die Bok-skrumafrigter onthef, glo vanweë ontevredenheid oor sy gedrag op verlede jaar se Springbok-toer na Brittanje.
Swart en Du Randt was die Springbok-span se stutpaar in die Wêreldbeker-eindstryd van 1995 wat Suid-Afrika gewen het.
Swart is glad nie in sy skik met die Bokke se skrumwerk teen die Aussies nie.
“John Smit moet saamgaan (Wêreldbeker-toernooi toe) ter wille van sinergie. Maar hoekom speel hulle hom op vaskopstut? En dan sit jy nog met ’n loskopstut tussen die plaasvervangers, Gurthrö Steenkamp.
“En hoe lank gelede het hy laas gespeel? Nee wat, ek sou altyd twee spesialis-vaskopstutte in my 22-tal gekies het.”
Hy erken wel dat Steenkamp nou speelkans nodig het as die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, hom graag wil saamneem na die Wêreldbeker-toernooi.
“Maar dit was net vir my teleurstellend om te sien hoe die Aussies ons terugskrum.
“Twee jaar gelede het ons húlle nog só geskrum. As ons só skrum, sal ek jou sê wat die All Blacks met ons gaan doen,” het Swart gesê en met ’n waarskuwende gesigsuitdrukking die antwoord as voor die hand liggend laat blyk.
Die Bok-spankeuse vir die komende naweek se toetswedstryd teen Nieu-Seeland in Port Elizabeth behoort dus meer aanklank by Swart te vind.
Steenkamp is op loskopstut, selfs al gaan sy gebrek aan wedstrydfiksheid hom steeds in die spervuur laat.
Die vaskopstut, Jannie du Plessis, kan later in die wedstryd deur CJ van der Linde vervang word wat ook vaskop speel en een van die plaasvervangers is.
Tendai Mtawarira is ook ’n plaasvervanger en tussen dié viertal behoort die Springbokke die Nieu-Seelanders se aanslag af te weer.
Nog ’n stut oor wie Swart opgewonde is, is die jong Vrystater Coenie Oosthuizen.
Swart glo ’n stut moet so ’n bietjie “grofheid” in hom hê – iets wat hy in Oosthuizen sien.
Hy erken wel die Wêreldbeker-toernooi is dalk ’n bietjie te vroeg om Oosthuizen daar aan die diep kant in te gooi.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24