Bok-yster is uit die Wêreldbeker
2011-08-18 07:02
Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen
Bloemfontein – “Ek is nie 100% nie en is totaal platgeslaan, want dit val nie enige rugbyspeler te beurt om in drie Wêreldbeker-toernooie te speel nie.
“Ek sal nie alles kan gee nie en besef ek moet my span, spanmaats en al die Bok-ondersteuners eerste stel. Ek moet ophou vir myself lieg – wat ek die afgelope drie weke gedoen het – en besef ek is nie reg nie.”
Só het ’n emosionele en uiters teleurgestelde Juan Smith, ysterflank van die Springbokke, gesê nadat hy hom weens ’n beseerde haksening aan die Bokke se Wêreldbeker-groep onttrek het.
Smith sê in sy skokaankondiging hy het homself voorgeneem om nooit op die veld te draf as hy nie alles vir sy land kan gee nie.
Sy onttrekking aan die Bok-span is – vanweë sy fisieke inklimspel, lynstaanwerk, leierskap en momentum met stormlopies – ’n yslike terugslag vir die Bokke se Wêreldbeker-aanslag.
Volgens Smith, wat in 2003 en 2007 ’n lid van die Bok-span in die Wêreldbekertoernooi was, het hy die afgelope tyd ondanks erge pyn vasgebyt in die hoop om sy Wêreldbeker-droom lewend te hou.
“Die pynvlak waarmee ek geoefen het, was sewe uit tien, wat beteken ek moes baie verduur.
“Ek het besef dit is in almal se beste belang dat ek nie nou verdere kanse waag nie.
“Ek was werklik sedert die eerste dag toe ek beseer is positief en het alles in my vermoë gedoen om Wêreldbeker toe te gaan. Ek kan werklik nie beskryf hoe teleurgesteld ek is nie... dit is baie.”
Smith het bevestig hy moet binnekort nóg ’n operasie ondergaan en gaan nou sy aandag rig op volgende jaar se Super Rugby-reeks, waarin hy die Cheetahs verteenwoordig.
Smith het hom gister ook aan die Vrystaat-span onttrek wat Saterdag hier in ’n Curriebeker-wedstryd teen die Pumas speel.
Peter de Villiers, die Bok-breier, het Smith vandeesweek vrygestel om vir die Cheetahs uit te draf in ’n poging om sy fiksheid voor die Wêreldbekertoernooi te bewys.
De Villiers sal, veral in Smith se afwesigheid, onrustig slaap oor sy lostrio. Die flank Schalk Burger sal weens ’n duimbesering in geen toets voor die eerste Wêreldbeker-groepwedstryd op 11 September in Wellington, Nieu-Seeland, teen Wallis speel nie.
Die flank Heinrich Brüssow is nog besig om sy wedstrydskerpheid te herwin nadat hy in verlede Saterdag se Drienasie-toets teen Australië die eerste keer ná ’n dyspierbesering vir die Bokke gespeel het. Hy het ’n week tevore slegs sowat 25 minute se Curriebeker-rugby vir die Cheetahs gespeel.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg