Bok-rugby in krisis
2010-09-06 06:32
Kaapstad - Hoewel Springbok-rugby hom in ’n ernstige krisis bevind net meer as ’n jaar voor die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland, beplan Suid-Afrika se rugbybase geen drastiese optrede nie.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) was gister berekend in sy reaksie nadat die Bokke Saterdag die vyfde keer in ses wedstryde in vanjaar se Drienasiereeks verloor het.
Daar gaan wel ’n standaard-prestasie-oorsig wees waar die Springbokke se flou vertonings vanjaar onder die loep geneem sal word.
“Ons beskou die situasie in ’n baie ernstige lig, maar daar is ’n proses wat gevolg moet word en ons gaan dit deurvoer,” het Saru se president, Oregan Hoskins, gister gesê.
Emosies het Saterdag in Bloemfontein hoog geloop, met die Bok-afrigtingspan, Peter de Villiers, Dick Muir en Gary Gold, wat deur die skare uitgejou is. Bryan Habana, in 2007 nog die Internasionale Rugbyraad se speler van die jaar, is uitgejou vir sy blapse en het soms sarkastiese applous ontvang wanneer hy nie droog gemaak het nie.
Saru hou die datum van die prestasie-beoordeling ’n geheim en is slegs bereid om te sê dat dit teen die “einde van die maand” sal plaasvind.
Saru het wel in ’n verklaring gesê “formele gesprekke” sal met die Springbok-afrigter oor van sy openbare uitsprake gevoer word.
De Villiers het verlede week ’n storm ontketen deur die Bok-span se steun aan die stut Bees Roux, wat van moord op ’n Tshwane-metropolisielid aangekla word, toe te sê.
Hoskins het aan die polisieman se familie geskryf om Saru se “ondersteuning en meegevoel” oor te dra.
Ondanks die feit dat De Villiers Saru die harnas ingejaag het met sy uitspraak oor Roux, kon die breier egter nog verlede week op die meeste rugbybase se steun reken om sy pos tot volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi te behou.
Suid-Afrika het sedert hy verlede jaar die Drienasie-titel verower het, net 6 uit 13 toetse gewen. Die span wat Saterdag met 39 – 41 teen Australië verloor het, was wat betref toetse gespeel ook die mees ervare in Springbok-geskiedenis.
Die 22 drieë wat Suid-Afrika in vanjaar se toernooi afgestaan het, is die meeste in die geskiedenis van die toernooi.
“Dit was net te maklik vir hulle om aan te val en hulle het sonder enige moeite deur ons verdediging gekom,” het die kaptein, John Smit, ná die wedstryd gesê.
“Ek kan baie verskonings bied, maar jy doen dit net wanneer jy tweede kom. Ons is nie op ons beste nie en het baie werk om te doen.”
Die oud-Springbok-kaptein Wynand Claassen beskryf die Springbok-span se vertonings as “treurig”, berig Retha Grobbelaar.
“Daar is groot name, maar wat help dit? As jy hul ervaring in ag neem, is dit die slegste Springbok-span in die geskiedenis. ’n Mens verwag meer. Dit lyk nie meer asof daar passie is nie. Die ouens wil nie meer hul lywe op die spel sit vir die Bok-trui nie. Die ouens druk te maklik drieë teen ons.”
Claassen meen sommige spelers verdien nie meer hul plek in die Bok-span nie. Hy wou egter nie sê watter spelers moet die trekpas kry nie.
“Daar moet ook vrae gevra word oor die keurders en afrigters.”
Die gewese Bok-vleuel Pieter Hendriks meen die Bokke speel te voorspelbaar.“Moenie vir my sê die spelers is moeg nie. Die oorsese spelers speel in dieselfde kompetisies. Moenie dit as verskoning gebruik nie, want die ander (oorsese) spelers is ook moeg.”
– Sport24