Bok-groentjies sál toer
2010-10-22 08:02
Pretoria - Nog ’n Springbok-agterspeler is uit die Bokke se “Grand Slam”-toer wat oor ’n raps meer as ’n week begin en wat toetse teen Ierland, Skotland, Wallis en Engeland insluit.
JP Pietersen van die Haaie sukkel met ’n dyspierbesering en het hom gister aan die toer onttrek. Wynand Olivier het eergister aangedui hy kan nie saam toer nie omdat hy ’n liesbesering het en geopereer moet word. Vroeër het Jaque Fourie ’n voet beseer wat ’n operasie noodsaak en hom ook uit die toer hou.
Altesame 37 spelers trek vanoggend in Johannesburg saam vir ’n beplanningsessie en oefenkamp met die oog op die Bok-toer volgende maand én volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland.
Van die 37 in die voorlopige Bok-groep wat vandag en Saterdag onder die Springbok-breier, Peter de Villiers, se wakende oog sal voorberei, is net 13 agterspelers oor. Met geen plaasvervangers vir Olivier en Pietersen wat hulle by die groep sal aansluit nie, is dit redelik seker dat al 13 in die finale Bok-groep sal wees.
Die toergroep van 30 spelers bevat gewoonlik 14 agterspelers, maar in dié geval sal die breier sekerlik ’n ekstra losvoorspeler saamneem. Dit wil dus lyk of die twee jongelinge, Elton Jantjies en Patrick Lambie, sal gaan toer.
Albei het nog vanjaar vir die SA o.20-span aan die Junior Wêreldbeker-toernooi in Argentinië deelgeneem en daarna ’n klomp stewige vertonings in die Curriebeker-reeks gelewer.
Die spelers wat in Fourways bymekaarkom, sal wel twee oefensessies hê.
Byna die helfte van die groep speel volgende Saterdag teen mekaar wanneer die Westelike Provinsie en die Haaie in die Curriebeker-eindstryd in Durban ontmoet en sal die volgende dag weer as spanmaats in Johannesburg vergader.
Dit is nie die ideale situasie nie, maar De Villiers, het nie juis ’n keuse nie.
SA Rugby word ’n aardige bedrag betaal om oor twee weke teen Ierland te speel as die nuwe stadion in Dublin geopen word.
De Villiers hou vandag ’n mediakonferensie saam met sy twee hulpafrigters, Dick Muir en Gary Gold, en behoort dan die sluier te lig oor sy toerplanne.
Daar word wyd bespiegel dat senior spelers nie die hele toer gaan meemaak nie, maar dit sal eers vandag bevestig word.
De Villiers sal ook vrae moet beantwoord oor sy werkverhouding met Muir en Gold ná sprake dat hy ander afrigters gevra het om hom op dié toer te help.
Intussen was daar gister die goeie nuus vir die Bokke dat Butch James weet sy Wêreldbeker-planne is in plek sou hy volgende jaar gekies word.
James, wat weens ’n skouerbesering nie weer vanjaar sal speel nie, het aan die Bath Cronicle gesê sy visier is op die Wêreldbeker-toernooi en dat slegs sy spelpeil tussen hom en ’n plek in die 30-tal Nieu-Seeland toe sal staan.
James het goedkeuring van sy klubspan, Bath, gekry om Bok-oefenkampe by te woon, sou dit nodig wees, ná ’n besoek van SA Rugby se bestuurder van nasionale spanne, Andy Marinos, verlede week aan dié klub.
James was in Junie in ’n toutrekkery tussen SA Rugby en Premiership Rugby oor sy deelname vir die Bokke buite die vensterperiode vir toetse. “Dit is nou uitgeklaar en al wat vir my oorbly, is om ten volle van my besering te herstel en dan met my vertonings op die veld die Bok-afrigters te oortuig dat ek Wêreldbeker toe moet gaan. Dit is my fokus,” het hy gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24