Bok-breier steun Curriebeker-aksie
2012-01-31 09:54
Pretoria. – Hyself het sy spore dáár verdien, hy weet spelers hou van die reeks en dit bly ’n uitstekende leerskool vir opkomende talent.
Daarom gaan Heyneke Meyer in dié stadium nié sy spelers keer om Curriebeker-rugby te speel nie. Die nuwe Springbok-afrigter het Maandag hier aan Sport24 gesê hy heg groot waarde aan die Curriebeker-reeks en sal graag wil sien dat dit die grondslag van die spel in Suid-Afrika bly.
Daar was groot vrese onder administrateurs en ondersteuners dat dié tradisieryke reeks deur Super-rugby oorspoel gaan word.
“Ek is egter nie ’n administrateur wat oor sulke goed besluit nie. As afrigter is ek egter heeltemal ten gunste daarvan dat Springbokke daarin speel.
“Met die nuwe samestelling van die internasionale toetsrooster gaan hul deelname uiteraard beperk word, want dit gaan bots met toetse in die Viernasies-reeks, maar ek gaan nie spelers doelbewus uit die reeks hou nie.
“Spelers hou ook daarvan om in die Curriebeker-reeks te speel. Ons het almal as kleintjies gedroom oor die Curriebeker en dit moet altyd so bly. Dit is ook nie reg dat hulle net inkom vir die uitspeelfase daarvan nie.”
Meyer het erken dat hy ’n tameletjie oor kondisionering en die rus van spelers saam met sy aanstelling gekry het.
“Ek het nog nie met die Super-afrigters vergader nie en ek wil nie hê hulle moet van my planne in die koerant lees nie, so ek kan nie eintlik nou te veel sê nie. “Ek hoop wel om ’n goue middeweg tussen hul belange en dié van die Springbokke te probeer kry.”
Meyer byt egter langtand aan persepsies dat spelers oorspeel is. “As ek hoor van ’n speler wat oorspeel is, kies ek met graagte een wat nié is nie. Uit my ondervinding wil spelers eerder speel as om te rus, maar dit is iets wat met tyd uitgepluis moet word. Ek kies net spelers wat wíl speel.”
Meyer vergader einde die week weer met SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, en hulle sal dan verdere vleis aan Meyer se bestuurspan en planne voeg.
“Ek weet nie eens wat is die beleid wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het ten opsigte van die keurders nie. Dit is belangrik dat ’n afrigter insae het in sy span en watter spelers hy daar wil hê,” het Meyer op die vraag geantwoord.
Hy het wel bevestig dat hy, veral aanvanklik, na oorsese spelers sal kyk om seker te maak die Bokke is van meet af aan op hul beste.
“Ons rugby is gesond, maar ons moet ook realisties wees.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24