Blou Bulle kry ‘goeie’ nuus oor Gary Botha
2010-08-17 10:00
Pretoria - Daar is ’n huppel in die stap van die Blou Bulle ná die nuus dat hul gereelde kaptein en haker, Gary Botha, slegs sowat ’n maand langs die kantlyn sal wees met ’n kniebesering.
Botha het Maandag dié goeie nuus gekry.
Hy hoef nie ’n operasie te ondergaan nie en kan oor sowat ’n maand weer speel – met die Westelike Provinsie, teen wie hy Saterdag seergekry het, se kragmeting op Loftus Versfeld ’n waarskynlik teiken vir sy terugkeer tot die beginspan.
“Gary het ’n graad twee-skeur in sy mediale ligament,” het die spandokter, Org Strauss, Maandag aan Sport24 gesê.
“Dit is ’n groot verligting dat die besering nie ernstiger is nie.”
Derick Kuün is ook fiks en het Maandag deelgeneem aan die oefensessie op Loftus Versfeld.
Hy sal die Ligbloues waarskynlik in Botha se afwesigheid aanvoer.
Kuün moes die veld Saterdag ná ’n harde stamp op die knie verlaat, maar het reeds weer herstel.
Dewald Potgieter was Maandag slegs ’n toeskouer toe die Springbokspan in Hyde Park geoefen het.
Hy het die veld teen die WP verlaat ná ’n harde stamp teen die nek, maar ongeag of hy betyds herstel, was daar Maandag nog nie sekerheid of hy vir Vrydag se wedstryd teen Griekwas vrygestel gaan word nie.
Zane Kirchner is ook op die krukkelys met ’n kniebesering.
“Ek kan nie my knie lekker buig nie, want dit is geswel en daar is vog,” het die Blou Bul- en Springbok-heelagter gesê.
’n Skandering het later getoon dat hy die kraakbeen in sy knie beskadig het. Sy herstel word ook deur die Bokke se mediese span gemonitor.
CJ Stander en Jaco van der Westhuyzen is die aangewese spelers om Dinsdag in Potgieter en Kirchner se plekke gekies te word as die Blou Bulle hul span aankondig.
Bandise Maku sal Botha vervang.
- Sport24