Blou Bulle gee Bees Roux verlof
2010-08-31 19:02
Johannesburg – Die rugbyspeler Bees Roux is deur die Blou Bulle Maatskappy (BBM) op verlof geplaas tot verder kennisgewing nadat hy van moord aangekla is, het Barend van Graan, uitvoerende hoof van BBM, Dinsdag gesê.
“Hy is deur moeilike tye die afgelope paar dae en ons voel dat dit geskik is om hom tyd af te gee om hiervan te herstel,” het Van Graan gesê.
Roux is Vrydag in die vroeë oggendure deur metropolisielede afgetrek omdat hy glo onder die invloed bestuur het.
’n Onderonsie het tussen Roux en sers. Ntshimane Johannes Mohale (38) ontstaan, waarna Roux hom glo aangerand het.
Mohale het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Roux is borgtog van R100 000 toegestaan.
Hy beplan om skuld op aanklagte van moord en dronkbestuur te ontken, het die hof gehoor.
Die hofsaak is tot 15 Oktober uitgestel.
Dit het Maandag aan die lig gekom dat Roux se kredietkaart by ‘n McDonald’s gebruik is terwyl hy glo in aanhouding was.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA