Blitse ysters teen Kiwi's
2011-12-03 07:19
Doebai – Daar is geen waarborge in sewesrugby nie, veral nie op die tweede dag van enige toernooi in die Wêreldreeks nie, maar ten minste kon die Blitsbokke Vrydagaand tevrede gaan slaap.
Die Suid-Afrikaanse span het die eerste dag van die Emirates Airlines-toernooi hier onoorwonne afgesluit en veral in sy laaste wedstryd, teen Nieu-Seeland, skitterende sewesrugby gespeel om die Internasionale Rugbyraad se reekskampioen met 21-5 om te dop.
Hy het vroeër in die dag Portugal met 17-5 en Amerika met 36-7 geklop.
Die goeie boekies wys 12 drieë is gedruk en slegs 3 afgestaan – ’n goeie beloning vir meer avontuurlustige spel as verlede week in Australië toe dit meer Botsbokke as Blitsbokke was.
Hier in The Sevens-stadion was dit die toevoeging van William Small-Smith wat die Suid-Afrikaners die ekstra tree vaart besorg het. Dié jong speler het gereeld hakke gewys vir teenstanders en teen Portugal en Nieu-Seeland gaan druk oomblikke nadat sy afrigter, Paul Treu, hom kans gegee het om te speel.
Dit was wel ’n dag waar Small-Smith sy skeermes begin gebruik het, maar veel belangriker vir Treu, een waar die spelers as ’n eenheid flink saamgespeel en veral die ou hande hul litte geroer het.
Kyle Brown was puik, Frankie Horne ’n yster en Branco du Preez het letterlik by die minuut beter geraak. Vandag begin alles weer van voor af.
Die Blitse speel in die kwarteindronde teen Frankryk en Brown het gesê al die harde werk moet ingespan word. “Ons het vandag (gister) goeie dinge gedoen en gaandeweg verbeter.
“Dit is die bemoedigende aspek van die dag. Ons het doelbewus vandag (gister) meer ruimte probeer bewerkstellig en dit het gewerk. Ek is bly iemand soos Jet Shoes (Small-Smith) kon sy vaart benut.”
Oor die kwarteindstryd teen die Franse is Brown oopkop.
“Ons het verlede week ook teen hulle in die kwarteind gespeel en ek kan jou sê, hulle kom vir jou. Hulle is gevaarlik omdat hulle letterlik van oral op die veld aanval.”
Dit sal dus die Blitse se taktiek teen die Franse wees om besit te behou.
“Ons het baie selfvertroue uit die sege oor Nieu-Seeland geput, maar op die tweede dag moet jy jou kanse benut, ongeag jou teenstander. Ons het baie reggekry op op die eerste dag, maar môre (vandag) moet ons wys waarom ons nommer een in die wêreld wil wees.”
Daar was gister nie werklik verrassings nie, maar Argentinië het ten koste van Samoa deurgedring, terwyl Fidji sy puik spelpeil van verlede week voortgesit het. In die ander kwarteindstryde speel Engeland teen Nieu-Seeland, Fidji teen Australië en Argentinië teen Wallis. Die Blitse sal, as hulle deurdring, teen die wenner van laasgenoemde wedstryd in die halfeindronde speel.
- Die Suid-Afrikaanse vrouespan het teen Amerika (10-22) en Engeland (19-21) vasgeval, maar China met 28-12 getroef.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24