Blitse se Delport onder mes
2012-02-08 09:50
Pretoria – Daar is min geregtigheid in rugby en selfs die Blitsbokke is dit nie gespaar nie.
Terwyl Frankie Horne die naweek in die Nevada-woestyn in sy 36ste agtereenvolgende sewestoernooi van die Internasionale rugbyraad se Wêreldreeks sal uitdraf, is sy spanmaat Paul Delport op pad Suid-Afrika en operasietafel toe.
Die ongelukkige skrumskakel het sy wangbeen in die Blitse se Plaat-sege oor Tonga in Wellington, Nieu-Seeland, gekraak en is reeds op pad huis toe vir die nodige, maar pynlike herstelwerk.
Sy spanmaats, wat die Las Vegas-kroon verdedig wanneer die toernooi Vrydag afskop, sal sekerlik ’n tweeledige motivering hê, om hul spanmaat se pyn te verlig én weer met die kroon huiswaarts te keer.
Delport hoef natuurlik nie vervang te word nie, aangesien spanne met ’n speler of twee ekstra mag reis, namate die IRR die groeiende vereistes van die reeks en sy oorgang na ’n Olimpiese sportsoort in die toekoms nakom.
Die IRR het juis Dinsdag aangekondig dat hy die formaat van toekomstige toernooie gaan verander en dat die volgende in die reeks, in Hongkong, reeds gebruik sal word as ’n uitspeelplek om uiteindelik nog drie spanne in die Wêreldreeks te laat speel.
Renfred Dazel is reeds in die dobbelstad en gelukkig vir die Blitsbok-afrigter, Paul Treu, is die Bolander ook ’n skrumskakel/heelagter en hy kan dus die opveewerk agterlangs doen.
Sou Treu egter Horne-hulle se werklading wil verlig, kan hy eerder Chase Minnaar in die twaalftal insluit.
Die speelveld van die Sam Boyd-stadion is smaller as ’n normale rugbyveld en dit verg dus ’n aanpassing in die spelpatroon, iets waarby die meer fisieke Suid-Afrikaners gaan baat vind en Treu kan laat kopkrap of ’n ekstra voorspeler wat in smaller ruimtes vorentoe kan beur, nie ’n beter keuse sal wees nie.
Volgens Marius Schoeman, wat meer as 100 drieë vir die Blitse gedruk het en deesdae in beheer staan van die nasionale sewes-akademie, kan Suid-Afrika dié faktor benut, soos hy reeds in 2011 tot sy voordeel gedoen het.
Die toernooi word ook oor drie dae gespeel om by Amerikaanse TV-skedules in te pas.
Twee van Suid-Afrika se wedstryde in Groep C (teen Uruguay en Wallis) word op die eerste dag gespeel en op die tweede dag word die ander groepstryd (teen Frankryk) en die kwarteindronde afgehandel. Die derde dag sal die halfeind- en eindstryde plaasvind.
“Dit is makliker, want die toernooi is oor drie dae en dit help baie. Dit beteken wel dat al die spanne hierby baat vind, so dit is nie werklik ’n voordeel vir die Blitse nie,” het Schoeman gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24