Blitsbokke kry nuwe leier
2009-12-17 07:13
Daniel van der Merwe
Kaapstad - Mzwandile Stick sal Suid-Afrika in die sewesrugby-toernooie in Nieu-Seeland en Amerika aanvoer nadat Paul Delport Dinsdag vir 10 tot 12 weke op die krukkelys geplaas is.
Delport het verlede week in die Internasionale Rugbyraad (IRR) se toernooi in George ’n enkel beseer. Luidens ’n verklaring wat SA Rugby gister uitgereik het, het Delport boonop ook ’n beseerde arm.
Hy sal daarom nie die toernooie in Wellington (Nieu-Seeland) op 5 en 6 Februarie en Las Vegas op 13 en 14 Februarie kan meemaak nie.
“Mzwandile Stick sal in Paul se afwesigheid die kaptein in daardie toernooie wees,” sê die Blitsbokke se breier, Paul Treu.
Treu het ook laat deurskemer dat Ryno Benjamin weer betrek sal word vir ’n opwarmtoernooi wat die SA Vipers (’n uitnodigingspan) op 6 en 7 Januarie in Mar del Plata (Argentinië) sal speel.
Benjamin het op die vooraand van die toernooi in George die trekpas uit die groep gekry weens vuil taal en ’n aggressiewe houding teenoor bestuurslede en spanmaats.
“Ryno is genoeg gestraf. Hy is ook ’n geldelike boete deur die senior spelers opgelê,” sê Treu, wat gister met Benjamin vergader het.
Renfred Dazel het van sy besering herstel en sal in Mar del Plata in aksie wees.
“Ek neem ook vir Branco du Preez saam. Hy het vir die Suid-Afrikaanse Studentespan in die Singapoer-sewes sweeper gespeel,” sê Treu.
Delport was voorheen die SA span se sweeper. Dít beteken hy gooi die bal by skrums en lynstane in, en verskaf die laaste linie van verdediging.
Sy besluitneming was ’n belangrike aspek van die Blitsbokke se wedstrydplan en dit was vir hulle ’n groot terugslag toe hy op die eerste dag in George teen Zimbabwe beseer is.
Verskeie ander senior spelers – Frankie Horne, Stick, Neil Powell en Marius Schoeman – sal nie saam Mar del Plata toe reis nie. Treu het die versekering gegee dat almal teen die tyd wat die volgende IRR-toernooi in Nieu-Seeland aanbreek, fiks sal wees.
“Die enigste senior spelers wat ek in Argentinië sal hê, is Ryno Benjamin, MJ Mentz, Renfred Dazel en Shaun Venter,” sê Treu.
Dazel is die gunsteling om die Vipers in Mar del Plata aan te voer.
Die groep van 12 spelers wat op toer gaan vir dié opwarmtoernooi sal waarskynlik vandag aangekondig word. Dit sal heelwat jong spelers insluit.
Treu is verskeie staatmakers van verlede jaar kwyt en bou weer ’n nuwe span.
“Ek gaan ses of sewe o.21-spelers saamneem. Dis maar ’n proses en daar is nie ’n eksklusiewe sewesstruktuur waaruit ek spelers kan kry nie,” sê Treu.
- Die Burger