'Blitse kan sake dié naweek regstel'
2011-12-08 07:00
Bloemfontein – Die Blitsbokke het beslis van Vrydag af ’n troefkaart in Port Elizabeth, maar dit is nie noodwendig ’n spesiale speler op die rugbyveld nie.
Volgens Robert Ebersohn sal sy spanmaats se honger om voor hul tuisskare te presteer genoeg aansporing wees om beter as in vanjaar se eerste twee toernooie te vaar.
Dié 22-jarige Cheetahs-senter meen die feit dat die Internasionale Rugbyraad (IRR) se sewestoernooi in die Baai gespeel word, kan ’n groter bondgenoot vir die Blitsbokke wees as wat die meeste mense besef.
Die Suid-Afrikaanse span het nie aan die Australiese Goue Kus en in Doebai te waffers gevaar nie, maar Ebersohn sê hy kan sake dié naweek regstel.
Volgens hom is die nuwe formaat van die IRR-Sewesreeks die Blitse goedgesind.
“Eindelik sal die span wat die graagste wil wen, seëvier. Dit is beslis ’n wapen wat ons in PE het.
“Al die spelers was baie opgewonde toe ek daar weg is en dis die eerste keer dat ons in die Baai speel.
“Dis ook die eerste keer dat daar drie toernooie aan die begin van die reeks is.
“Die aanmoediging wat die Blitsbokke het om in ’n eindstryd voor hul tuisskare te speel, is genoeg om goed te vaar.
“Al die ander groot spanne, behalwe Australië, is die derde week in ’n ry op toer en dis moeilik.
“Ons ouens speel tuis en ek hoop en glo hulle kan dit tot hul voordeel gebruik,” sê Ebersohn.
Hy het – soos oorspronklik met Paul Treu, die Blitsbokke se afrigter, ooreengekom – vandeesweek weer by die Cheetahs se voorbereiding vir 2012 se Super-reeks ingeval.
Ebersohn sê die Cheetahs was baie tegemoetkomend om hom vir die eerste twee IRR-toernooie vry te stel, aangesien sy werklading in 2011 hoog was.
Hy het in byna al die Cheetahs se Super- én Curriebeker-wedstryde gespeel. Dié buitesenter sê die gaping tussen die spanne wat aan die IRR-reeks deelneem, is kleiner as toe hy in 2008-’09 se reeks ’n Blitsbok geword het.
“Daar is ná die eerste twee toernooie ’n klomp spanne na aan mekaar op die puntelys.”
Fidji is voor met 39 punte, Engeland tweede met 32 en Frankryk, Nieu-Seeland en Suid-Afrika saam derde met 29 punte. Australië is vierde met 28 punte.
Ebersohn meen Cecil Afrika se terugkeer ná ’n besering sal die Blitse ook baie help. “Cecil is ’n natural en hoef nie te veel te dink oor wat om te doen nie.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg