Blitsbokke in taai toets
2011-12-09 07:01
Port Elizabeth – Gôbokke, Gôll Blacks, Gôdji, Gôngeland en Gôstralië.
Jip – die enkele sewesrugbyspanne wat nog ’n treksel gô oor het, is dié wat oor die volgende twee dae hier in die Nelson Mandelabaai-sewestoernooi die pyp gaan rook.
Die Baai se eerste toernooi in die Internasionale Rugbyraad se Wêreldreeks begin Vrydag. Maar, heng, ál die spanne is paptaaiers!
Hierdie is die eerste keer dat die reeks met drie agtereenvolgende toernooie begin. Dit was in die verlede twee.
Die meeste lande het vandeesweek ’n baie lae profiel gehandhaaf, soms geoefen en baie in die see rondgeplas.
En hoewel die sarsie opskuddings verlede naweek in Doebai ’n aanduiding was dat die reeks meer mededingend word, behoort sake hier in die derde toernooi weer uitgespook te word tussen die sewesmoondhede Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Fidji, Engeland en dalk ook Wallis en Australië.
Frankryk het die Blitsbokke verlede week onverwags met 19-5 geklop en eers in die eindstryd teen Engeland uitgesak. Nieu-Seeland het die eerste keer tot nog toe drie agtereenvolgende wedstryde verloor. Kanada het Samoa, die 2009-’10-reekskampioen, slae gegee; en Engeland het die oënskynlik onstuitbare Fidji in ’n oogwink geklop.
Soveel opskuddings is lanklaas gesien, maar soveel moeë rugbyspelers ook.
Niemand kon voorsien het hoe moeilik die bestuur van spelers tydens dié drie toernooie sou wees nie.
Maar die fikser, meer professionele lande – dié wat al eindstryde van 20-plus minute gewen het (gewone wedstryde is 14 minute lank), dié wat al die reeks gewen het en dié wat swaar sluk aan die minagting waarmee kleiner rugbylande hulle verlede week afgeransel het – húlle behoort nou weer tussen die voorstes te tel.
Nie die snelgroeiende groen spanne wat nog jaarringe moet stoot nie. In werklikheid tel Australië tans tussen die laasgenoemdes, selfs al het hy die Blitsbokke verlede week met 17-14 geklop.
Tydens die eerste helfte van die Blitse se veldoefensessie Woensdag het ’n ondersteuner langs die kantlyn oor twee dinge hardop gepeins: hoe hy ’n bal kan gaps sonder dat iemand agterkom; en tweedens waarom die Bokke so flou lyk. Teen gister was daardie flouheid weg. Of dít ook Nieu-Seeland geld, sal ’n mens moet sien.
Die Kiwi-breier, Gordon Tietjens, is nie bekend vir sy innemende geaardheid nie, maar wel vir oefenkegels en fiksheid.
Toe sy span in 2008-’09 maar vierde in die reeks geëindig het, het van sy spelers gekla dat tamheid hulle soos voetboeie nasleep. Ou Tietj het sy span straks weer te hard gedruk.
Vrydag se program: 11:37 Fidji t. Portugal, 11:59 Wallis t. Zimbabwe, 12:21 Engeland t. VSA, 12:43 Argentinië t. Samoa, 13:05 Frankryk t. Skotland, 13:27 Nieu-Seeland t. Marokko, 13:49 Suid-Afrika t. Kanada, 14:11 Australië t. Kenia, 14:43 Fidji t. Zimbabwe, 15:05 Wallis t. Portugal, 15:27 Engeland t. Samoa, 15:49 Argentinië t. VSA, 16:11 Frankryk t. Marokko, 16:33 Nieu-Seeland t. Skotland, 16:55 Suid-Afrika t. Kenia, 17:17 Australië t. Kanada, 17:49 Portugal t. Zimbabwe, 1 8:11 VSA t. Samoa, 18:33 Skotland t. Marokko, 18:55 Kanada t. Kenia, 19:32 Fidji t. Wallis, 19:54 Engeland t. Argentinië, 20:16 Frankryk t. Nieu-Seeland, 20:38 Suid-Afrika t. Australië . Wedstryde op SS 1, SSHD.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg