Blitsbokke het goed begin, sê Treu
2011-11-26 15:06
Kaapstad – Paul Treu, afrigter van die Blitsbokke, is relatief tevrede met sy span se derde plek in die Goue Kus-sewestoernooi.
Die Suid-Afrikaners het derde op die punteleer geëindig na hulle Australië Saterdag met 'n telling van 17-5 geklop het.
Die Blitsbokke het vroeër Saterdag in die halfeindronde met 7-24 teen Fidji verloor. Fidji het Nieu-Seeland met 26-12 geklop in die eindstryd.
“Ons is teleurgesteld dat ons nie die bal beter kon beheer teen Fidji nie, wat duidelik op die tweede dag die beste span was.
"Maar daar was oor die laaste paar dae 'n paar positiewe punte vir ons. Robert (Ebersohn) het baie goed gedoen in sy eerste wedstryd vir ons in twee jaar; Chase Minnaar het vir die eerste keer in 'n jaar gespeel; terwyl Renfred Dazel heeltemal fiks is en gespeel het sonder enige negatiewe uitwerking van sy kniebesering, wat hom sedert die Las Vegas-toernooi in die vorige seisoen buite rekening gelaat het.
“Ons het klaar beter begin as die vorige seisoen," het hy gesê.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24