Bjorn Basson kan rekord laat spat
2010-08-26 09:49
Bloemfontein - Griekwas se rugbyspan, wat by die halfpadmerk volstoom op pad na ’n plek in die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks is, kan minstens een rekord laat spat.
Die Bok-vleuel Bjorn Basson benodig in die tweede ronde van dié reeks slegs twee drieë om wyle Robert Markram se drieërekord van 11 in ’n Curriebeker-seisoen te ewenaar.
Basson kan reeds Vrydagaand in Durban in die wedstryd teen die Haaie ’n tree nader aan dié mylpaal gee nadat hy sover nege drieë in sewe wedstryde vir die Poubloues behaal het.
Rugbystatistieke is dikwels misleidend, aangesien dit nie altyd die volle verhaal vertel nie. Maar Basson se nege om die voorste driedrukker in die Curriebeker-reeks te wees, is volgens Griekwas se agterlynafrigter, Abré Minnie, geensins misleidende statistiek van die blits se aanvallende vermoë nie.
Basson se nege drieë is twee meer as dié van die Haaie-blits Lwazi Mvovo, gevolg deur vyf elk deur die Pumas-losskakel Elgar Watts, Luiperds-skrumskakel Michael Bondesio, Haaie-flank Keegan Daniel, Streeptrui-flank Pieter Louw en stut van die Vrystaat, Coenie Oosthuizen.
“Bjorn druk sy drieë nie net deur sy vaart te gebruik nie, maar deur op die regte plekke op te duik en goeie hardlooplyne te kies.
“Hy is nou ryp as ’n speler nadat ek hom reeds in 2008 op o.21-vlak as ’n toekomstige Bok geoormerk het,” sê Minnie.
In die meerderheid van sy nege drieë was dit volgens Minnie nie net ’n geval van afronding wat deur Basson vir ’n “spandrie” benodig was nie.
“Vir baie van dié drieë is van sy uitsonderlike individuele vaardighede gesien en moes hy hard werk. Sy rotsvaste verdediging en fisieke teenwoordigheid by die afbreekpunte is die verblydendste aspekte van sy spel vanjaar - dít is iets waaraan ons baie hard gewerk het.
“Bjorn is een van die beste lugspelers (om die bal uit die lug voor ’n teenstander te vang) en teenstanders beraam weekliks planne om hom te probeer neutraliseer sodat hy nie vir lugskoppe kan meeding nie. Verblydend is dat Bjorn dan self planne beraam om dít te oorbrug.”
Oor of Basson genoeg vaart het om op toetsvlak impak te maak, twyfel Minnie geensins oor nie.
“Dít het hy in ons wedstryd teen die Blou Bulle gewys toe hy in die doodsnikke ’n drie gedruk het. Hy het op pad na die Ligbloues se doellyn - onthou hy was ook die baldraer - daarin geslaag om onder die Bulle-vleuel Gerhard van den Heever uit te hardloop wie slegs sy enkels kon raak,” sê Minnie.
Die binnesenter Barry Geel was in verlede jaar se Curriebeker-reeks die Poubloues se voorste driedrukker met 10.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24