Bismarck, Schalk en Victor veg om kroon
2011-11-03 07:02
Pretoria. – Schalk Burger of Bismarck du Plessis? Of dalk ’n sentimentele swanesang vir Victor Matfield ná meer as ’n dekade se diens?
Dié drietal is Donderdagaand in Johannesburg saam met Francois Hougaard en Pat Lambie in ’n wedloop om as die land se voorste rugbyspeler aangewys te word wan- neer SA Rugby sy toekenningsaand by Gold Reef City hou.
Du Plessis is die gunsteling om goud raak te boor, maar die moontlikheid dat die beoordelaars dit teen hom gaan hou omdat hy nie ’n beginplek in die Springbok-span kon losspeel nie, is nie uitgesluit nie.
In daardie geval sal Burger, wat al voorheen dié toekenning gekry het, dalk ’n kortkop-gunsteling voor Matfield wees – maar laasgenoemde se spelpeil vanjaar was nooit minder as uitstekend nie, terwyl die Kaapse blondekop ’n deel van die seisoen weens beserings misgeloop het.
Matfield het pas uit rugby getree en sentiment wás in die verlede ’n faktor.
Lambie en Hougaard is ook tussen die benoemdes vir jong speler van die jaar, met eersgenoemde wat verlede jaar deur nóg ’n finalis, Elton Jantjies, geklop is.
Paul Treu en John Mitchell behoort sake as afrigter van die jaar uit te spook.
Treu se Blitsbokke het drie toernooie in die Internasionale Rugbyraad se Sewesreeks gewen – en dalk sal die flou vertoning van Mitchell se Lions-span in die Super Rugbyreeks teen hom tel in die pylvak.
In ander afdelings, soos die sewesspeler van die jaar, sal daar nie ’n verrassing wees nie, aangesien Cecil Afrika ook reeds deur die IRR as sy beste speler in die verkorte weergawe van die spel aangewys is.
Die benoemings is:
Speler van die jaar: Schalk Burger, Bismarck du Plessis, Francois Hougaard, Pat Lambie, Victor Matfield.
Jong speler van die jaar: Johan Goosen, Francois Hougaard, Elton Jantjies, Pat Lambie, Jaco Taute.
Span van die jaar: Boland-Kavaliers, Goue Leeus, Springbok-Sewes, Stormers, Ikeys.
Afrigter van die jaar: Allister Coetzee, Eugene Eloff, John Mitchell, John Plumtree, Paul Treu.
Super Rugbyspeler van die jaar: Gio Aplon, Schalk Burger, Bismarck du Plessis, Sarel Pretorius, Duane Vermeulen.
Curriebeker-speler van die jaar: Johan Goosen, Elton Jantjies, Frederic Michalak, Josh Strauss, Jaco Taute.
Curriebeker: Eersteliga-speler van die jaar: Bolla Conradie, Danwel Demas, Willie le Roux, Luke Watson, Elgar Watts.
Vodacombeker-speler van die jaar: Marnitz Boshoff, Marcell Coetzee, Lionel Cronjé, JJ Engelbrecht, Juan Imhoff.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg