Beseringspook ry WP bloots
2011-09-19 09:34
JOHANNESBURG - Terwyl Allister Coetzee en sy Westelike Provinsie-span vandag terugkyk na ’n teleurstellende Saterdagmiddag op Loftus Versfeld, is die WP se twee nuutste beserings waarskynlik ’n nog groter kopseer met die Curriebeker-reeks wat die pylvak bereik.
Die jong stut Steven Kitshoff, wat juis gespeel het omdat Wicus Blaauw se rugbyseisoen verlede week weens ’n besering beëindig is, is moontlik ook die res van die seisoen uit aksie.
Kitshoff het skynbaar knieligamente beseer in sy span se nederlaag van 20-28 teen die Blou Bulle en dieselfde lot het moontlik die plaasvervanger-skrumskakel, Nic Groom, getref.
Coetzee, die WP-afrigter, het wel ná die wedstryd aangedui waarom hy nie in sak en as hoef te sit nie.
“Ons het teruggeveg. As jy op Loftus eers met 15 punte agter is, het jy nooit ’n kans om te wen nie. Ek is baie trots op my spelers dat hulle só teruggeveg het dat hulle teen die einde nog ’n kans gehad het (om te wen).”
Coetzee het sy verduideliking vir die nederlaag met die woorde “ek wil dit nie soos verskonings laat klink nie” ingelui en gesê: “Dit is ’n jong span waarmee ons besig is. Vier van ons spelers is nog o.20 en hulle het teen nege Springbokke gespeel.
“Daarom is dit duidelik dat hulle nog ’n paar keer Loftus toe moet kom om teen die Bulle te speel om uit te vind presies wat dit verg.
“Hoewel ek jong of ou spelers nie as ’n verskoning wil gebruik nie, is die probleem dat die outjies nog leer.”
Volgens Coetzee was die dun lug op die Hoëveld soos gewoonlik aan die begin van die wedstryd ’n struikelblok vir die kusbewoners en het dit die WP-spelers se aanvanklike werkverrigting geknou.
Die Bulle het ná drieë deur CJ Stander en Zane Kirchner teen rustyd met 20-3 voorgeloop, alvorens die WP die tempo verhoog het en met die impak van sy plaasvervangers vir ’n bietjie beter mededinging gesorg het.
“Die plan was om ’n dinamiese span in die tweede helfte los te laat en dit het gewerk; die ander ouens moes (vroeër) net hul werk doen,” het die Streeptruie se afrigter gesê.
“Maar dit was ’n baie swak begin. Die Bulle het weer baie goed vertoon – duidelik ’n span wat met die rug teen die muur was.
“My ouens het wel gewys hulle het vegtersinstink en dít is iets wat niemand kan afrig nie.”
Oor die nuutste beserings het Coetzee net sy kop geskud.
“As ek moedeloos begin raak, dink net hoe moedeloos moet ons o.21-afrigter wees, want ek gaan haal elke keer spelers by hom.
“Eers het ons Wicus verloor en nou is Kitshoff seker vir vier of vyf weke uit.
“En Nic Groom ook.
“Ek sal nou seker weer na ons klubstelsel moet kyk (vir plaasvervangers).”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24