Berouvolle Cooper vry weer na Wallabies
2012-10-29 10:36
Sydney – Quade Cooper is desperaat om weer vir die Wallabies te speel ten spyte van sy omstrede aanmerkings oor die manier waarop die span funksioneer.
Cooper het voormalige en huidige spelers glo erg die josie in gemaak met sy aanmerkings oor die afrigter Robbie Deans, en die manier hoe die Wallabies bestuur word.
Hy sal Woensdag voor ‘n tugkomitee verskyn en kan moontlik sy kontrak met die Australiese Rugbyunie (ARU) verloor.
Die ster-loskakel het verlede maand die nuus gehaal toe hy negatiewe kommentaar gelewer het oor sy span, en die manier waarop dit hom glo negatief beïnvleod het.
Ewen McKenzie, Cooper se afrigter by die Reds, het egter gesê dat hy die probleme agter hom wil sit en dat hy gretig is om die Wallabies se nommertien-trui terug te wen.
“Daar was die afgelope tyd baie praatjies, maar ek het nog nooit gedink dat hy nie passievol is oor die Reds of oor Australiese rugby nie,” het McKenzie tydens ’n mediakonferensie gesê.
“Hy is een van die mees mededingende ouens wat ek al ontmoet het. Ek is seker dat hy loskakel op die hoogste vlak en voor die grootste skare wil speel. Dit is hoe hy is.”
“Hy wil sy talente ten toon stel, maar wat mense nie besef nie is dat hy van die verantwoordelikheid hou om dinge te laat gebeur.”
“Hy hou daarvan om verantwoordelikheid te neem en hy voel dit is sy werk.”
Die 24-jarige Cooper het in onderhoude sy frustrasie met Deans se styl van verdediging duidelik gemaak, en gesê hy wil nie by die Wallabies betrokke wees nie.”
"Ek mik daarna om die beste te wees en het voorheen gesê dat ek nie in daardie soort giftige omgewing wil wees nie," het Cooper gesê.
"Vir my om as 'n speler en mens te verbeter en te groei moet ek in die beste moontlike omgewing wees."
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP