Rayno Benjamin terug vir Cheetahs
2011-09-21 08:41
Bloemfontein – ’n Meer fisieke teenwoordigheid voorlangs en goeie lynstaanspel deur Izak van der Westhuizen, het daartoe gelei dat Wilhelm Steenkamp Saterdag op Nuweland in Kaapstad op nommer vier in die lynstane vir die Vrystaat sal spring.
Steenkamp is Dinsdag deur afrigter Naka Drotské in sy beginspan vir die Curriebeker-rugbykragmeting met die WP ingesluit.
Dit is een van twee veranderings aan die beginspan, wat laas Saterdag teen die Haaie uitgedraf het.
Die vleuel Rayno Benjamin keer terug ná ’n dyspierbesering, terwyl die flank Philip van der Walt weens ’n kopbesering nie oorweeg kon word nie.
Steenkamp het sowat vier weke gelede die eerste keer in vanjaar se reeks ná ’n kniebesering gespeel.
Sedertdien was hy teen Griekwas, die Luiperds, Blou Bulle en Haaie op die plaasvervangersbank.
Hy vervang Francois Uys, wat ’n plaasvervanger sal wees.
Toe Steenkamp van sy besering herstel wat hy in die Super-reeks opgedoen het, het ondersteuners verwag hy sou baie gouer in die beginspan wees, veral omdat hy ’n lynstaanspesialis is.
Maar goeie spel deur Van der Westhuizen en Uys het hom uitgehou.
Steenkamp en Waltie Vermeulen, wat vanweë sy studies nie oorweeg word nie, het vroeër die Vrystaat-Cheetahs se lynstane beheer, maar volgens Drotské het Van der Westhuizen dié rol goed oorgeneem.
Van der Westhuizen het aanvanklik weens beserings aan slotte ’n kans gekry om te speel en sedertdien sterk na vore getree.
Volgens Drotské verskaf Steenkamp ’n fisieke element aan die voorspelers.
“Ons benodig meer fisieke teenwoordigheid, veral tussen die vaste voorspelers en die wyse waarop ons losgemale slaan en skoonmaak.”
Die Vrystaat-span is:
Hennie Daniller, Rayno Benjamin, Robert Ebersohn, Philip Snyman, Cameron Jacobs, Johan Goosen, Pieter van Zyl, Ashley Johnson, Boom Prinsloo, Lappies Labuschagné, Izak van der Westhuizen, Wilhelm Steenkamp, Coenie Oosthuizen, Adriaan Strauss (k), Marcel van der Merwe. PLAASVERVANGERS: Hercu Liebenberg, Trevor Nyakane, Francois Uys, Johan Wessels, Tewis de Bruyn, Sias Ebersohn, Andries Strauss.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24