Bakkies-vuur nie geblus
2010-10-07 07:21
Johannesburg - Hy het al byna 240
eersterangse wedstryde in ’n loopbaan van 11 jaar gespeel, maar min van
daardie wedstryde was só belangrik vir Bakkies Botha as die een Saterdag
in Kimberley teen Griekwas.
Die 31-jarige slot van die Blou
Bulle maak eindelik weer sy verskyning op die rugbyveld ná ’n handjievol
wedstryde vir die Bulls in die Super14-reeks en vir die Springbokke in
hul toetse vroeër vanjaar.
Daarna het eers ’n besering en toe twee skorsings Botha van speeltyd beroof.
Toe
dié uitgedien is, kon Botha weens ander unies se geweeklaag nie in die
Curriebeker-reeks speel nie omdat hy ’n gekontrakteerde Springbok is en
daarom aan ’n kondisioneringsprogram onderwerp is.
Dít ondanks die feit hy weens sy skorsings reeds vier weke lank in die gimnasium kon brei en aan sy vaart en krag kon werk.
Niemand wou Botha aandurf sonder dat hul eie spanne op volsterkte was nie.
Dit
was dus nie juis verbasend nie dat Botha in ’n verklaring eergister
deur die Springbokke se kondisioneringsafrigter, Neels Liebel, as een
van die spelers uitgewys is wat beter as in die verlede in sy toetse
gevaar het.
Tog kom sy grootste toets Saterdag tussen die vier lyne wanneer hy teen die Poubloues uitdraf.
Botha
het ná sy skorsing as Springbok – weens ’n kopstamp teen Jimmy Cowan –
aangedui dat hy ernstig oor sy temperament en ingesteldheid op die veld
besin het .
Dié “ontwrigter” was selfs in trane.
Daar kan geen twyfel wees dat Griekwas hom van stryk sal probeer bring nie.
Verwag van die tuisspan om hiér aan Botha te trek en dáár te karring en te hoop daardie veelbesproke “lont” vat vlam.
Net
so gevrees soos wat Botha in die verlede weens sy inklimspel was, net
so seker kan hy daarvan wees dat hy in die toekoms uitgetart en uitgelok
gaan word.
Tog glo sy “bloedbroer” en mede-slot, Victor
Matfield, dat Botha die “groter prentjie” eerste sal stel en nie weer
sal toelaat dat persoonlike gevoelens bo spanbelang geplaas word nie.
“Ja, dit is ’n groot wedstryd vir Bakkies,” het Matfield aan Sport24 gesê.
“Hy
brand om weer ’n slag te speel en is veral baie gretig om aan die mense
te wys dat hy wel hard, maar binne die reëls kan speel en steeds die
faktor is wat hy was.”
Matfield glo Botha sal dit wel kan doen en weer sy kleim as die land se beste nr. 4-slot sal afsteek.
“Bakkies
weet dat ouens soos Flip van der Merwe en Danie Rossouw vanjaar
uitstekende rugby in sy afwesigheid gespeel het en hard aan die deur
klop om sy plek in te neem.
“Ek dink hy is gretig om daardie plek weer syne te maak, maar hy voel beslis die druk van die ander twee.”
Tog glo Matfield nie hy het nodig om kalmerende woorde in sy slotmaat se oor te fluister nie.
“Nee wat, hy is heel rustig oor wat voorlê.
“’n
Mens wil nie die vuur waarmee Bakkies speel hoegenaamd inperk nie; dit
gaan eerder daaroor om dit op verantwoordelike wyse te beheer.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24