Bakkies gou weer in blou
2010-08-03 08:17
Pretoria - By die Blou Bulle glo hulle altyd die glas is eerder halfvol as halfleeg en elke donker wolk het ’n silwer randjie.
Neem nou maar die voorbeeld van Bakkies Botha.
Wáár die Springbok-slot aan die einde van die Drienasies-reeks ’n volledige kondisioneringsprogram sou ondergaan en eers daarna vir die Blou Bulle in die uitklopfase van die Curriebeker kon rugby speel, gaan Botha waarskynlik nou reeds op 11 September vir die Ligbloues teen die Cheetahs in Bloemfontein uitdraf.
Botha se skorsing van nege weke eindig op 4 September, maar intussen is die groot slot hard aan die woel in die gimnasium én op die veld, waar hy krag en vaartwerk doen.
Sy skorsing uit toetsrugby kan dus onverwags die Blou Bulle help in hul aanslag om die Curriebeker suksesvol te verdedig.
Heel ironies het Botha én sy aangewese opvolger by die Bulle én Bokke, Flip van der Merwe, gister hier by Loftus Versfeld naellope geoefen.
Botha en sy Bok-spanmaat Victor Matfield het saam gesweet en ’n rukkie later het Van der Merwe, wat Saterdag weer uitgeblink het vir die Ligbloues, ook ’n paar lopies ingekry terwyl die res van die span voorberei het vir Vrydag se wedstryd teen die Luiperds.
Van der Merwe verskyn vanoggend in Johannesburg voor ’n tugkomitee nadat hy weens ’n vuishou in die wedstryd teen die Leeus in Johannesburg uitgewys is.
Die feit dat hy eenkant gedraf het tydens die finale oefensessie, wil dit laat lyk of die Bulle ’n skorsing verwag.
Van der Merwe se uitwysing saam met die Leeus se Trevor Hall, wys weer hóé rof dinge in die hitte van die stryd kan gaan.
Uitwysingsbeamptes kan byna elke wedstryd kus en keur in hul keuses.
Fudge Mabeta behoort Van der Merwe te vervang as die 25-jarige Springbok-slot wel skuldig bevind word.
Die Bulle-afrigter, Frans Ludeke, het gister sy hand effens gewys oor sy planne teen die Luiperds en dit wil lyk of die Bok-haker Chiliboy Ralepelle in die beginspan gaan wees.
Gary Botha sal ná verwagting ’n ruskans kry en Ralepelle kry die eerste keer vanjaar kans om ’n wedstryd vir die Ligbloues te begin.
Derick Kuün behoort die span aan te voer.
Bandise Maku sal die plaasvervanger-haker wees nadat hy verlede week se aksie teen die Leeus misgeloop het.
Ralepelle kan twee oud-Luiperds aan weerskante van hom hê, met Bees Roux wat na verwagting as vaskop sal begin en Jaco Engels wat loskop sal speel.
Albei het hul provinsiale loopbane in die groen en rooi begin.
In ander skuiwe kan verwag word dat Dustin Jinka as tweede skrumskakel kan speel.
Francois Hougaard het die jawoord gekry nadat ’n kuitbesering hom teen die Leeus gepla het.
Hy sal weer die nr. 9-trui dra, met Jinka wat sy Curriebeker-debuut in die tweede helfte op Loftus Versfeld kan maak.
Jinka het hom sowat ’n maand gelede by die Bulle uit Kaapstad aangesluit.
Die Springbok-senter Jaco Pretorius kan ook in sy eerste wedstryd sedert die Super14-eindstryd speel.
Hy het herstel van stresfrakture in sy voet.
Die Bulle se afrigter sal ná vandag se oefensessie besluit of hy op Pretorius se knoppie wil druk.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24