Aussies mor oor seer Bokke
2011-07-08 07:20
Kaapstad - Dit is soos daardie doktersbriefies op skool: al raai die onderwyser ook oor die toeval dat jou verkoue presies saam met gister se wiskunde-toets geval het, is daar nie veel wat hy daaromtrent kan doen nie.
Die Springbok-krukkelys van 21 spelers het, voorspelbaar genoeg, wenkbroue in Sydney laat lig, maar Sanzar se grootbaas, Greg Peters, het reeds aan die webwerf Rugby365 laat val dat hy tevrede is met die Springbok-bestuur se verduideliking.
“Ons is teleurgesteld met die lang lys beserings, maar daar is ernstige, ondubbelsinnige beserings in daardie span,” het hy gesê.
Die Australiese Rugbyunie het Sanzar vroeër Donderdag versoek om ondersoek in te stel na die lang Bok-beseringslys.
Dit ly egter min twyfel dat daar niks is wat Sanzar se grootbase hieraan kan doen nie. Grotendeels weens die uitgerekte Super-reeks waarop die Aussies so aangedring het, hét die meeste van Suid-Afrika se topspelers stampe en stote opgedoen wat ruskans verg.
G’n dokters is geraadpleeg oor die wenslikheid van die verlengde reeks nie en dis bloot feite dat spelers soos Bakkies Botha, Jaque Fourie en Willem Alberts teen die einde van die reeks met ligte skete en al uitgedraf het.
Uit Nieu-Seeland is nog nie gemor nie, moontlik omdat die All Blacks iets dergeliks beoog. Daar word klaar uit die Land van die Lang Wit Wolk geskinder dat Colin Slade en Aaron Cruden sake in die Drienasies-reeks sal uitspook om te sien wie die reserwe-losskakel vir die Kiwi’s in die Wêreldbeker-toernooi sal wees.
G’n All Black-span sonder Dan Carter kan hoegenaamd vir die ware Jakob aangesien word nie. Maar die Crusaders, wat sweerlik twee derdes van die All Black-span sal verskaf, se lywe is die laaste maande deur ’n marteltrap en dis nie onwaarskynlik dat ons ook nie húl beste vyftiental in Augustus in Suid-Afrika sal verwelkom nie.
Daarbenewens is dit ’n goeie vraag of ’n paar grensgevalle, soos Wynand Olivier, Ashley Johnson en Werner Kruger, nie in elk geval in hierdie toetse beter as die eerstekeuse-spelers sal vaar nie: motivering gaan hulle nie makeer nie.
Die Bok-toergroep vir die oorsese skof van die Drienasies-reeks word vandag bekend gemaak uit die 29 gesondes.
’n Toetsspan soos dié kan dalk goeie rekenskap van homself teen die Wallabies gee: Patrick Lambie, Gio Aplon, Juan de Jongh, Wynand Olivier, Lwazi Mvovo, Morné Steyn, Ruan Pienaar, Pierre Spies, Ashley Johnson, Heinrich Brüssow, Johann Muller, Danie Rossouw, Werner Kruger, John Smit, Dean Greyling.
- Sport24
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Die Burger