Andries kry regmerkie
2011-12-12 09:36
Bloemfontein. – Die Cheetahs-spanbestuur het in die Versoeningsdag-feesstryd Saterdag teen die Griffons antwoorde oor sy diepte gekry, maar die Cheetahs se agterlyn-afrigter, Hawies Fourie, sê dit sou beter gewees het as dié kragmeting in Januarie gespeel is.
Die tuisspan het eers in die laaste tien minute tot verhaal gekom toe die Perses se gô uitgeraak het en het eindelik met 33-15 hier in die Vrystaat-stadion koning gekraai.
Volgens Fourie het heelparty spelers die oog getref, maar sou die wedstryd van soveel meer waarde gewees het as dit in Januarie gespeel is.
“Aan die einde van Januarie sou dit perfek gewees het, want dit kon dan sommer as een van ons voorseisoense wedstryde getel het. Maar dit was ’n goeie geleentheid om nuwe spelers en ouens wat dalk beseer was, speelkans te gee.
“Veral iemand soos Andries Ferreira het ons werklik beïndruk,” het Fourie gesê.
Ferreira het slot gespeel en word as ’n speler beskou om die leemte te vul wat Wilhelm Steenkamp se vertrek gelaat het. Hy, Waltie Vermeulen, Izak van der Westhuizen en JC Astle sal sake om die nr.5-trui uitspook.
Die Griekwas-slot Martin Muller is nog beseer en dit is onseker of hy Super-rugby sal speel.
Die heelagter Riaan Smit het ook vir die tuisspan indruk gemaak en veral spel oorheers toe hy na losskakel geskuif het. En dié skuif was met voorbedagte rade, aldus Fourie.
“Riaan het werklik goed vertoon, veral op losskakel. Ons het vooraf al besluit om hom daar kans te gee, want ons kyk daarna om hom in die rol te gebruik. Rayno (Benjamin) het ook goed gespeel.”
Benjamin is in die middelveld gebruik. “As senter het hy heelparty keer oor die voordeellyn gekom.”
Die breier was vol lof vir die aanslag waarmee die Griffons vorendag gekom het. Cheetahs soos die flank en kaptein, Justin Downey, en die stut Eugene Butterworth het goed gelyk met die bal in hand, maar omkeerbesit was ’n groot kopseer vir die tuisspan.
“Daar is heelwat van die Griffons wat goed vertoon het.
“Baie van die spelers hier gaan Super-rugby speel en ons kan hulle nie bloot op vandag se vertoning beoordeel nie. Dit is die Kersseisoen en dit maak dit bitter moeilik,” het Fourie gesê.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg