André Pretorius dra nr.10 vir Haaie
2010-09-30 08:30
Johannesburg - Twee oud-Leeus begin Vrydagaand die eerste keer in ’n Curriebeker-rugbywedstryd vir die Haaie.
Die losskakel André Pretorius, en die slot Gerhard Mostert is albei in die beginspan wat teen die Luiperds in Durban speel.
Dit sal veral vir Mostert ’n spesiale geleentheid wees nadat hy binne enkele minute in sy debuut vir die Sharks in die Super14-reeks ’n ernstige beenbesering opgedoen het en sedertdien nog nie weer vir sy nuwe span in aksie was nie.
Hy het dié besering opgedoen in die eerste Super14-wedstryd van die seisoen teen die Chiefs in Durban.
Dit was teen die middel van Februarie en nou, sewe en ’n half maande later, kry hy eers weer speelkans.
Pretorius sal net so opgewonde wees om te kan wys wat in hom steek ná beserings hom ook lank uit aksie gehou het.
Hy het wel in die laaste paar wedstryde as plaasvervanger opgedraf, maar kry nou die kans om hom van die begin af in te grawe en sy stempel behoorlik af te druk.
Met Pretorius wat die nr. 10-trui dra, kry Patrick Lambie ’n welverdiende ruskans.
Hy het nog in al die Curriebeker-wedstryde hierdie seisoen gespeel en was voor dit ook in die laaste agt Super14-wedstryde in aksie.
Keegan Daniel, wat agtsteman in die plek van Ryan Kankowski speel, neem die kapteinskap by die beseerde Stefan Terblanche oor.
Kankowski het gister voor ’n tugkomitee van die SA Rugbyunie verskyn nadat hy Saterdag op Coca-Colapark op die Leeus se plaasvervangerflank Trevor Hall getrap het.
Die bevinding sal eers vandag bekend gemaak word, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie in ’n verklaring gesê.
Riaan Swanepoel is Andries Strauss se nuwe sentermaat.
Alistair Hargreaves maak plek vir Mostert, terwyl daar ook ’n skommeling in die voorry is.
Jannie du Plessis is weer fiks en speel vaskop in die plek van Eugene van Staden, wat oorskuif na loskop, met Patric Cilliers wat uit die beginspan skuif.
Jacques Botes is ook weer in die beginspan omdat Daniel van flank na agtsteman skuif.
Die Haaie se span is:
Louis Ludik, Odwa Ndungane, Andries Strauss, Riaan Swanepoel, Lwazi Mvovo, André Pretorius, Charl McLeod, Keegan Daniel (k), Willem Alberts, Jacques Botes, Gerhard Mostert, Steven Sykes, Jannie du Plessis, Craig Burden, Eugene van Staden.
PLAASVERVANGERS: Kyle Cooper, Patric Cilliers, Anton Bresler/Michael Rhodes, Michael Rhodes/Ryan Kankowski, Rory Kockott, Patrick Lambie, Luzuko Vulindlu.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24