Afrika moet wys hy’s reg
2011-12-06 07:00
Port Elizabeth – ’n Blitsbok-span sonder Cecil Afrika en Branco du Preez het nie tande nie – net soos wat ’n Springbok-span sonder Morné Steyn en Fourie du Preez nie skop het nie.
Só het Paul Treu, die afrigter van die Blitsbokke, Maandag gesê toe hy oor sy sewesrugbyspan se wisselvallige vertonings uitgevra is.
“Dis moeilik om Cecil en Branco te vervang.
“As besluitnemers en spelskeppers gee hulle daardie momentum wat ’n span nodig het.
“Ons moes ander kombinasies in hul afwesigheid (weens beserings) probeer en dit het tot ’n paar minder goeie vertonings bygedra.
“As ons die reeks wil wen, moet ons deurentyd as individue én as ’n span presteer.”
Volgens Treu is sy span deeglik bewus daarvan dat hy veral in die afgelope toernooi in Doebai nie sy doelwitte bereik het nie.
Die Blitsbokke het in Doebai net die eindstryd van die Plaat-afdeling gehaal en is toe deur Australië geklop.
Met Afrika en Du Preez terug, kan die Blitsbokke hopelik die naweek met nuwe ywer hier in die Baai speel.
Treu het gesê dat hy Afrika nie sonder meer op reputasie gaan kies nie.
“Cecil moet eers wys hy is reg en weer die beginspan haal,” het hy gesê terwyl ’n paar rugbyskrywers sinies gelag het. Ek sal hom versigtig by die span infaseer,” het hy verduidelik.
Dit is dus waarskynlik dat Afrika aanvanklik net in die laaste paar minute van die eerste twee wedstryde opgestuur sal word.
Volgens Treu sal sy span hom “nie doodoefen” voordat die toernooi Vrydag in die Nelson Mandelabaai-stadion afskop nie.
“Die spelers het twee strawwe toernooie en baie reistyd agter die rug. Dis belangrik dat hulle vars moet wees wanneer die toernooi begin.”
Hy dink wel hy het sy spelers taamlik goed afgewissel sodat hulle die werklas as ’n groep en nie as enkelinge nie gedra het.
“Ek het byvoorbeeld doelbewus nie vir Kyle (Brown, die kaptein) vreeslik baie in die eerste toernooi, in Australië, gekies nie.”
Brown het gesê hy dink nie daar is veel meer druk op die span om die toernooi te wen omdat dit in Suid-Afrika is nie.
“Daar is altyd druk op ons om te wen. Of dit nou hier of oorsee is, ons probeer altyd wen.”
Frankie Horne, een van die mees ervare spelers in die span, meen soos Treu dit is net ’n kwessie van tyd voordat die Blitsbokke voluit op dreef kom.
“Dis nie asof ons hopeloos vertoon nie; ons speel net partykeer baie goeie rugby en begaan dan in party ander wedstryde onnodige foute.
“Dis meer ’n kwessie van die los punte bymekaar bring.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg