Absa: Kwotas geld nie vir Curriebeker
2010-09-22 05:33
Johannesburg - Absa het nie gedreig om sy borgskap te onttrek of voorgestel dat kwotas ingestel word nie, het Absa en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Dinsdag in 'n gesamentlike verklaring gesê.
"Saru bevestig dat Absa nooit gedreig het om sy borgskap te onttrek of voorgestel het dat kwotas ingestel word of was op enige manier voorskriftelik oor die samestelling van die spanne nie," het Oregan Hoskins, president van Saru, gesê.
Berigte het verlede week aan die lig gekom dat die Curriebeker-borg, Absa, sy kommer uitgespreek het oor 'n gebrek aan transformasie in rugby.
In reaksie hierop het die burgerregte-inisiatief AfriForum 'n "Stop Absa-kwotas"-veldtog van stapel gestuur en baie mense dreig om hul Absa-bankrekeninge te sluit.
Absa het Sondag in 'n Rapport-berig reageer, met die adjunk-uitvoerende hoof, Louis von Zeuner wat sê: "Ons het nooit gesê 'n span moet uit 'n sekere aantal spelers van kleur bestaan nie".
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Dinsdag egter gesê dié organisasie het 'n SMS-boodskap gevind wat Von Zeuner aan Hoskins gestuur
het en teenstrydig is met Von Zeuner se kommentaar wat hy die naweek gemaak het.
Die boodskap is ná die Curriebeker-wedstryde op 11 September gestuur en lui volgens AfriForum só: "Regan, I think you should write to the major unions on black players -judging from today's games Lions 2, Bulls 1, Cheetahs 2 -- they are not respecting the spirit and goals of transformation. Louis."
Luidens Saru en Absa se verklaring "geld kwotas nie meer in Curriebeker-toernooi nie".
"Daar word egter van elke provinsie verwag om die kwessie van die verteenwoordiging van spelers op die speelveld ernstig in ag te neem, om ons breër transformasie doelwitte te ondersteun."
Von Zeuner het gesê Absa se versoek aan Saru was dat die toernooi "op so 'n manier voorgelê word dat dit verseker dat die Curribeker-toernooi 'n geleentheid aan al die spelers bied om hul potensiaal te ontwikkel".
Hy het gesê toeskouergetalle "is nie altyd na wense nie" en het aan Saru gesê dat "alle aspekte van die ooreenkoms nie altyd nagekom word nie".
"Curriebeker-wedstryde moet dieselfde opwinding genereer as die sekere sportgeleenthede wat vroeër vanjaar gehou is."
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- SAPA