100ste Curriebeker-stryd vir de Waal, Botes
2010-08-06 15:26
Johannesburg - Die WP-losskakel, Willem de Waal en die flank van die Haaie, Jacques Botes, gaan albei Saterdag in hul 100ste Curriebeker-wedstryd uitdraf.
De Waal se 100ste wedstryd is teen die Griekwas in Kimberley, terwyl Botes dieselfde mylpaal teen die Leeus in Durban sal bereik.
Die WP-losskakel het sy debuut vir die Luiperds in Julie 2002 gemaak en het die span van Potchefstroom in 24 Curriebeker-wedstryde verteenwoordig.
Hy het ook 60 wedstryde vir die Vrystaat-Cheetahs gespeel voor hy by die Westelike Provinsie aangesluit het. Dit sal Saterdag sy 16de wedstryd vir die Streeptruie wees.
Botes het sy debuut in 2002 vir die Pumas gemaak in 'n wedstryd teen die Valke in Springs.
Die flank sal sy 77ste wedstryd vir die Haaie speel nadat hy in 23 wedstryde vir die Pumas uitgedraf het.
Alhoewel WP tans die enigste onoorwonne span in die Curriebeker-reeks is, kom hulle teen 'n gedugte Griekwas-pak te staan wat vanjaar nog nie ‘n wedstryd in Kimberley verloor het nie.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24