Leeus kan by WP leer hoe om sukses te behaal
2011-05-03 07:56
Kaapstad - ’n Mens sal sukkel om ’n groter kontras te vind as die uiteenlopende belewenis van die Stormers en die Lions se ondersteuners in vanjaar se Super Rugby-reeks.
In die Kaapse hoek het ons ’n span wat besig is om sy ondersteuners se verwagtinge te oortref, terwyl daar in Gauteng groot teleurstelling is dat die Lions nie die mas opkom nie.
Die Lions het ’n goeie afrigter, John Mitchell, aangestel en het die dik beursie van die aandeelhouers Robert Gumede en Ivor Ichikowitz.
Daar is gehoop dat dié aandeelhouers se geld en Mitchell se vernuf as breier hulle tot groter hoogtes sou aanspoor.
Mitchell se probleem is eerstens dat hy spelers geërf het en tweedens dat ’n mens nie sommer ’n span kan koop as spelers elders gekontrakteer is nie. Geld alleen is ook nie werklik ’n grondslag om op te bou nie. Dit help natuurlik, maar ’n dik tjekboek bied nie ’n blywende oplossing nie.
’n Paar maande gelede lees ek ’n artikel waarin Gumede meld dat hy graag vir Frans Steyn, Thierry Dusautoir, Ma’a Nonu en Richard Kahui na die Goudstad wil lok.
Dit sou wonderlik wees as net een van hulle sou opdaag, maar die probleem is dat Mitchell eintlik die antwoorde op sulke vrae moet verskaf.
Tog het Gumede, deur ’n aandeel in die Goue Leeus Rugbyunie te bekom, vir hom baie publisiteit in die plaaslike media losgeslaan. Gaan Google gerus “Gumede” en billionaire en kyk wat jy kry.
Die Westelike Provinsie kan doen met Gumede se miljoene. Supersterre soos Jaque Fourie, Bryan Habana, Jean de Villiers, Andries Bekker en Schalk Burger hoef immers nie met min tevrede te wees nie.
Tog het die onderliggende strukture seker net soveel met die Stormers se welslae te doen as die gekontrakteerde spelers.
Eerstens is daar ’n kultuur van harde werk by die WP se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville.
Die strukture vul mekaar goed aan en hoewel die Vodacombeker-span Saterdag verloor het, is een van die redes daarvoor seker dat die Stormers se losskakel-krisis ook op ’n laer vlak gevoel is.
Die vestiging van die WP se Rugbyinstituut in Stellenbosch etlike seisoene gelede het ook verseker dat meer talent binne die WP se strukture ontwikkel word. Juan de Jongh, Rynhardt Elstadt, Danie Poolman en Johann Sadie is sprekende voorbeelde daarvan.
As jy wonder hoe dit moontlik is dat Adriaan Fondse nog nie vanjaar vir die Stormers gespeel het nie, kyk gerus hoe die WP se diepte op slot lyk. De Kock Steenkamp is Saterdag teen die Sharks van die plaasvervangersbank af opgestuur, met Elstadt en Bekker in die beginspan.
Dan is daar nog ’n hardebaard in Anton van Zyl en jong manne soos Quinn Roux, Eben Etzebeth en Reniel Hugo wat aan die deur klop. Dít is ’n natuurlike gevolg van strukture wat optimaal werk.
Die stand van sake in die Suid-Afrikaanse groep van die Super Rugbyreeks dui duidelik daarop dat die krag in Suid-Afrikaanse rugby nou in die Kaap gesetel is. Al wat nou ontbreek, is ’n trofee.
Dit het al baie bloed, sweet en trane geverg om net tot op hierdie punt te vorder nadat die WP vir baie lank onderpresteer het.
Vir die Lions is die beste raad seker maar dit wat hulle nie wil hoor nie: Soek jul heil in ontwikkeling en harde werk.
As dit te moeilik klink, “teken” dan maar die WP Rugbyinstituut se breintrust van Steph Nel en Jacques Hanekom; en “koop” eerder Rassie Erasmus en Allister Coetzee met die geld wat op Dusautoir en Nonu se kontrakte gespandeer sou word.
Húlle is immers die individue wat die boustene vir langtermyn-welslae by die WP gelê het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24