Blaser in kollig ná Blitse vasval
2012-02-06 08:33
Pretoria. – Dit sal dalk die Blitsbokke loon, om soos Australië en Engeland, die kleur van hul truie in die Internasionale Rugbyraad se Wêreld-sewesreeks dramaties te verander, want sommige skeidsregters sien skynbaar geel as hulle Groen-en-Goud sien.
Só het die Australiese skeidsregter Anthony Moyes nou reeds drie keer in vier wedstryde ’n geelkaart teen die Blitse uitgeruk en elke keer vir dieselfde afbreekpunt-oortreding.
Saterdag was dit Boom Prinsloo wat in die kritieke kwarteindstryd van die Wellington-toernooi ’n geelkaart gekry het.
Toe dié Blitsbok twee minute later terugkom, was sy span se voorsprong van 5-0 teen Fidji skielik ’n agterstand van 5-14, sy spanmaats pê en ultra-versigtig. Fidji het met 21-5 gewen.
Die Blitsbokke is van die mees professionele spanne in die reeks en om te sien hoe drie van hul teenstanders net twee strafdoele in 42 minute se sewesrugby afstaan, is moeilik om te verstaan. Slegte nuus vir Paul Treu (afrigter) en sy Blitsbokke is dat Moyes een van twee blasers is wat in al nege toernooie gaan optree. Hoe gouer hulle werk maak van die splinter in die Aussie se oog, hoe beter vir hulle.
Moyes se vinnige kaarte en oordeel was al verlede jaar in die kollig. Tóé het selfs die eerste minister van Samoa, wat ook voorsitter van die Samoaanse Rugbyunie is, Tuilaepa Sailele Malielegaoi, sterk kapsie gemaak teen die Aussie se hantering van ’n halfeindstryd in die Hongkong-toernooi. Dáár het hy in ’n omstrede beslissing ’n Samoaan van die veld gejaag.
Malielegaoi kan nie gestraf word vir sy uitlatings nie, maar Treu wel, so die Blitse se breier moet maar sy tong vasbyt.
Die IRR het voor dié seisoen se reeks twee heeltydse beamptes aangestel om skeidsregters by te staan en te ontwikkel.
Die gewese Engelse toetsblaser Steve Lander is nou die skeidsregtersbestuurder en ’n oud-Aussie, Scott Young, die skeidsregtersafrigter.
Treu wou nie kommentaar lewer oor Moyes se blapse nie. “Scott-hulle probeer hard om die gehalte en groei van skeidsregters te bewerkstellig,” was al wat Treu geantwoord het.
Die Blitse verdedig die naweek die titel in Las Vegas en Uruguay, Wallis en Frankryk wag in die groepwedstryde.
Nieu-Seeland het in Wellington die Beker-eindstryd met 24-7 teen Fidji gewen. Suid-Afrika het die Plaat-titel gewen toe hy Tonga met 24-0 geklop het.
Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24