SA se voorlopige Olimpiese span bekend
2012-06-06 14:00
In-diepte Verslae
Te midde van aantygings van dissiplinêre probleme onder Australië se Olimpiese swemmers, het een swemmer haar spanmaats as "kinderagtig" beskryf.
Die trane van blydskap het behoorlik onder Suid-Afrikaners gevloei oor Chad le Clos se goue oomblik. Kyk hier na die video.
Johannesburg – Suid-Afrika se Olimpiese veldtog het Woensdag in alle erns begin met die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) se aankondiging van die voorlopige span wat die land sal verteenwoordig in Londen.
Altesaam 112 lede is deur Saskok op lys geplaas, maar die organisasie het gesê atlete wat nog nie op die span is nie het tot die einde van Junie om te kwalifiseer.
"Ek het nog altyd gesê die bou van 'n span is soos 'n legkaart," het Gideon Sam, president van Saskok, gesê.
Hy het ook gesê die span sou groter wees as daar meer finansiële ondersteuning was vir atlete.
"Laat ons nie doekies omdraai nie, ons kon baie beter gedoen het as ons beter befonds was, maar dit is altyd die geval," het hy gesê.
Die Suid-Afrikaanse swemspan sal die grootste groep in die span as geheel wees.
Onder die 16 swemmers op die lys tel Cameron van der Burgh, Chad le Clos en Roland Schoeman.
Slegs vier lede van die swemspan is vroue, met Karin Prinsloo, Kathryn Meaklim, Suzaan van Biljon en Wendy Trott wat ingesluit is.
Suid-Afrika sal ook deur beide sy mans- en vroue-hokkiespan verteenwoordig word, aangesien beide spanne gekwalifiseer het.
Banyana Banyana sal hulle buiging maak by die Spele ná hulle verlede jaar met 'n gelykopuitslag teen Ethiopië gekwalifiseer het.
Hoewel 'n paar baan- en veldatlete steeds soweg en sweet om te kwalifiseer, is die 400 m-hekkiesatlete Cornel Fredericks en LJ van Zyl se name klaar op die lys, tesame met Caster Semenya en die Suid-Afrikaanse spiesgooi-kampioen Sunette Viljoen.
Marc Mundell, die nasionale rekordhouer in die 50 km loopitem sal vir die eerste keer aan die Olimpiese Spele deelneem.
Die mans-marathontrio sal bestaan uit Lusapho April, Stephen Mokoka en Coolboy Ngamole, terwyl Rene Kalmer, Tanith Maxwell en Irvette van Blerk aan die vroue-item sal deelneem.
Siphiwe Lusizi en Ayabonga Sonjica is die enigste twee boksers op die voorlopige lys.
Die kanovaarder Bridgette Hartley sal haar vorige vertoning in die K1 500 m wil verbeter, terwyl Tiffany Kruger Suid-Afrika in die K1 200 m-item sal verteenwoordig.
Die bergfietsryer Burry Stander staan uit as 'n moontlike medaljewenner ná hy 15de geëindig het in sy item in Beijing. Sifiso Nhlapo sal op sy beurt op sy BMX trap dat dit klap ná 'n moeilike paar jaar waarin hy 'n paar ernstige beserings opgdoen het.
"Wanneer ek na hierdie span kyk is ek gevul met trots en hoop," het Sam gesê.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA