Minder Aussies na Spele
2012-02-23 12:04
Melbourne – Australië sal met sy kleinste groep atlete sedert 1992 na Londen reis nadat verskeie sportspanne nie vir vanjaar se Olimpiese Spele kon kwalifiseer nie.
Die land se nasionale sokkerspan het Woensdag in 'n kwalifiseringswedstryd met 1-0 teen die Verenigde Arabiese Emirate verloor en sodoende by die vroue se sokker en –vlugbalspanne aangesluit, wat ook nie die paal kon haal nie.
Australië se Olimpiese komitee het vooraf geskat dat 420 deelnemers na Londen sal reis, maar dié getal is nou 370.
In 1992 het die Aussies 279 atlete na Barcelona gestuur en met sewe goue medaljes teruggekeer, terwyl 417 atlete die land in 1996 by die Spele in Atlanta verteenwoordig het.
Die Olimpiese Spele vind vanjaar vanaf 27 Julie tot 12 Augustus plaas.
Vir die jongste sportnuuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AP